Ons gesels elke oggend saam op die bed voor
Lambrecht pad vat werk toe. Vanoggend maak ons weer so. Lambrecht leer Amé die
vingers – eers die duim, dan die wysvinger, dan die middelvinger. Hy hak ewe
skielik vas. “Dan die ringvinger,” help ek. “Nee, ons moenie nou al met ‘n
ringvinger kom nie. Sy moet nog niks weet van ringe nie. Ek weet nie wat ek
doen as sy die dag met ‘n “boyfriend” by die huis aankom nie.”
Ek dog eers my man maak ‘n grap. Ons
babadogtertjie is maar skaars vier maande oud, en hy lyk alreeds verergd oor
die ouens wat baie ver in die toekoms by ons huis sal wil opsit. Net die
gedagte maak hom na ‘n bose Pappa lyk.
Ek spot anderdag met Stan, my swaer van
Pofadder, dat hulle dogtertjie darem eendag baie Pofadderklonge sal hê wat wil
kom kuier. Plotseling kom daar ‘n donderwolk oor sy gesig. “Hulle moet net
weet, nie enige donner sal op hierdie werf kom kuier nie,”was sy antwoord
onmiddellik. Dis belangrik om te weet dat Anmari eers oor ‘n maand gebore sal
word…
Wat’s die ding dan met Pa en dogters?
My pa het drie dogters. Hy’s die
ongelooflikste pa waarvoor enige dogter kan vra. Hy het ons leer dans. Hy het
ons geleer van Driedoringbosse, Langbeenboesmangras, die verskil tussen ‘n ram
en ‘n ooi en wat skape se tande van hul ouderdom verklap. Hy het ons altyd sy
Boesmanlandse blomme genoem. Toe ons klein was het ons altyd voor RSG-kerk
Sondae met sy hare gespeel. Dan het ons bokstertjies gemaak en sy kop vol
kleurvolle knippies gedruk. Ons baklei nou nog wie die swartkoppies op sy neus
mag druk.
En toe kom die “boyfriends.” My eerste
noemenswaardige “date” was na die Marchandskou toe. Ek onthou hoe die jongman
versigtig by my pa wou weet hoe laat ek tuis moes wees. My pa het hartlik
geantwoord – net wanneer hom die beste gaan pas. (My pa was baie beïndruk met
die jongman.)My ma het dit amper nie gemaak nie en vinnig tussenbeide getree en
reëls neergelê. My pa was altyd gaaf met ons “boyfriends,” alhoewel hy nie
altyd so baie van hulle gehou het nie. Of ek vermoed so.
Ek onthou veral een voorval goed. Ek was ‘n
eerstejaar en kon soos so baie ander, eenvoudig nie wag vir Die Mas
Desembermaand nie. Een aand het ‘n baie gladdebek sy pad na my hart oopgedans.
Laataand het hy my koebaai gesoen onder die sterre op die dek wat uitkyk oor
die rivier. Hy’t my verseker dat ek beslis een van die mooiste vroue op aarde
is. Dit was laataand en al die mooi woordjies was soet op my oor.
Weke het verbygegaan sonder enige nuus van
hom. My hart was ontnugter. Ek het met my pa hieroor gepraat. Daardie aand
langs die skermvuur het hy gewaarsku: “Ou Surra, jy moet maar versigtig wees.
Mansmense kan vuilgoed wees.” Ek sal dit nooit vergeet nie. Hy het dit so goed
bedoel. Hy wou my beskerm teen seerkry vorentoe.
Vandag is my pa se skoonseuns sý seuns. Hy’s vir hulle lief
soos eie kinders. Ek weet my pa se skoonseuns kla graag by hom oor hul
hardkoppige vrouens. Ek vra Lambrecht anderdag wat my pa nou sê as hy en Stan
kla oor ons. Lambrecht vertel, my pa skud net sy kop en dan sê hy, “Pa verstaan
heeltemal. Hulle Ma het altyd presies dieselfde gedoen. Hulle is hulle ma
uitgeknip.”
En dan krul sy skoonseuns se tone, want hulle
skoonpa verstaan.
love dit!
ReplyDelete