Pinkstertyd op Kakamas

Toe ds. Peet Sondag aankondig dat nagmaal komende Sondag begin, kon ek nie help om terug te dink aan nagmaal as ‘n koshuiskind nie. Nagmaal in Kakamas se pragtige N.G. Kerk in Voortrekkerstraat langs die laerskool.

My kerkklere was maar skraps. Ons het nie elke Sondag kerk toe gegaan nie. Kakamas kerk was net té ver.  My pa het Sondae vir ons Sondagskool gegee in sy kantoor. Sondagskool was na die RSG-preek oor die radio. My pa se sondagskool was altyd lank. Hy het elke lessie met groot deeglikheid voorberei. Ek wonder vandag hoeveel laat aande hy hieraan gewerk het. Aande wat hy dalk ook eintlik baie eerder met ‘n Landbouweekblad sou wou bed toe.
 
Pinkstertyd was dus vir my ma ‘n kopseer. Sy moes vier dae se kerkklere vir haar drie meisiekinders bymekaar kry. My en Marietjie se kerkrompies kleintyd was altyd self gemaak deur my ma. Ons was mal oor geruite materiaal. Of ek kan nie onthou of my ma mal daaroor was en gevolglik ons ook nie. Die somtotaal van ons kerkklere was dus geruite materiaal knierompies met polonek langmou hemde. Ons het ook net een paar kerkskoene gehad. Dié moes by alles pas. Die kouse was ‘n hoogtepunt. Ons het immers net kerk toe kouse gedra. Elkeen het ‘n paar swartes en ‘n paar ligtes gehad. Als by Pep Stores gekoop.
 
Tog snaaks dat ek net kleintyd se pinkster kan onthou: Sub. A, sub. B en std.1.
 
Marné, my koshuismaatjies saam met wie ek sub.A begin het, het altyd die mooiste kerkklere gehad. Ek onthou hoe die “groot” kinders haar altyd komplimenteer het. Sy het immers ‘n Rainette-sussie gehad wat toe al student was in Bloemfontein en kon raadgee oor die nuutste modeneigings. Ek onthou spesifiek haar baie stylvolle bruin kerksteweltjies by so geruite materiaal winterskortbroek met kouse. Al haar klere was gekoop.
 
Ons kleintjies moes altyd kerktoe, al het ons sit en slaap op die “groot” kinders se skote. Die hoërskoolkinders kon kies of hulle wou gaan. Indien jou studies dit nie toegelaat het nie, moes jy tuisbly vir studietyd. Alle hoërskoolkinders het altyd gegaan. Jy sou enigiets doen om ‘n bietjie studie in die studiesaal te mis. Dit sou ek eers later leer.
 
Een spesifieke aand tydens pinkstertyd sal ek seker nooit vergeet nie. Ds. Carstens het daardie aand gepreek. Een van die hoërskoolkinders op die gallery het onder gebed vir ‘n koshuiskind onder gewaai. Ds. Carstens se oë was, soos die duiwel dit wou hê, ook onder gebed oop en hy het die hele gewaaiery gade geslaan.
 
Hy het so geskreeu op die sondebokke (darem eers na die gebed) dat van die kleintjies verward wakkergeskrik het uit hul soet slaap. Die hele gemeente was verontwaardig oor die twee waaghalsige tieners se gedrag. Ek weet tot vandag toe nie wie die waaiers was nie. Ek onthou net Dominee se gesig. Hy was woedend!
 
Anderdag gesels ons sommer so oor kerk. Lambrecht vertel dat hy ook vir ds. Carstens geken het. Ewe skielik bly hy stil en dan kom die vraag: “Was jy ook daai aand in die kerk toe die dominee so verskriklik kwaad was vir kinders wat onder gebed gewaai het.
 
Ek glimlag dadelik. Ek was ok daar. Hoe sal ek dan nou vergeet?

Comments

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep