Treinspoorstap
Corieta laat weet my Vrydagnamiddag dat hulle Saterdagmôre gaan stap – treinspoorlangs van êrens af tot by die Tolhuis Restaurant. Uitstappies saam met Erika, Annalise, Ebeth, Michelle en Corieta loop ek nie graag mis nie. Ek weet hulle nooi my soms ietwat huiwerig. Tussen hulle praat ek nooit eintlik saam nie. (Nou nie dat jy vreeslik praatkans gegun word nie! Hier veg elke ou vir sy spreekbeurt, want almal het altyd baie te sê!) Ek luister altyd net en lag. Ek lag baie, want tyd en ondervinding en jare het hulle geleer om die lewe met ’n knippie sout te vat. Hulle weet hoe om die humor in elke situasie te sien. En as ek by my huisie kom, kan ek nie wag om te skryf oor hulle en van hulle nie! Michelle,Annalise(agter),Erika,ek,Ebeth en Corieta Hierdie Saterdag was geen uitsondering nie. Ons pak die pad saam met nog ’n hand vol fikser vrouens as onsself aan. Die vrouens is aangetrek, gehoed en gewater vir groot stap. Sommer uit die staanspoor sien ek dat hulle nou nie gekom het vir lag...