Treinspoorstap

Corieta laat weet my Vrydagnamiddag dat hulle Saterdagmôre gaan stap – treinspoorlangs van êrens af tot by die Tolhuis Restaurant.
Uitstappies saam met Erika, Annalise, Ebeth, Michelle en Corieta loop ek nie graag mis nie. Ek weet hulle nooi my soms ietwat huiwerig. Tussen hulle praat ek nooit eintlik saam nie. (Nou nie dat jy vreeslik praatkans gegun word nie! Hier veg elke ou vir sy spreekbeurt, want almal het altyd baie te sê!) Ek luister altyd net en lag. Ek lag baie, want tyd en ondervinding en jare het hulle geleer om die lewe met ’n knippie sout te vat. Hulle weet hoe om die humor in elke situasie te sien. En as ek by my huisie kom, kan ek nie wag om te skryf oor hulle en van hulle nie!
Michelle,Annalise(agter),Erika,ek,Ebeth en Corieta

Hierdie Saterdag was geen uitsondering nie.
Ons pak die pad saam met nog ’n hand vol fikser vrouens as onsself aan. Die vrouens is aangetrek, gehoed en gewater vir groot stap. Sommer uit die staanspoor sien ek dat hulle nou nie gekom het vir lag en filosofeer langs die pad nie.
Ons groepie raak dus toe iewers langs daai treinspoor lelik vêr agter die res. Mens kan sekerlik die blaam so half-en-half op Erika plaas wat gereeld moes stop vir foto’s. Haar redenasie was dat mens nie die mooi pad kan stap sonder om te stop en te kyk nie-wat ek met haar saamstem.
Iewers langs die treinspoor het Michelle begin vertel van haar bikinibroekie wat sy anderdag op ’n helse uitverkoping gekoop het. Dit was ’n nommer groter as wat sy normaalweg dra, maar vir die prys het sy besluit om dit tog maar te koop. Noodgedwonge om te sê, kan sy dit nou nie dra nie, want dis te groot.
En toe begin praat ons oor kleregroottes. Sien, die lentebloeisels wat so prentjiemooi aan elke boom in Ceres sit kom waarsku jou baie skielik en baie beslis: Lente is hier. Een van die dae gaan jy wil swembroek aantrek. Na ’n lang, koue, vreed(t)same winter, is dit nie ’n gawe boodskap nie.
Groot gesels langs die treinspoor!

“Nee wat, deesdae is ek mal daaroor om my klere by straatmarkte en vreemde winkeltjies te koop. Hulle het mos nie kleregroottes in nie,” vertel Erika vrolik. Sy dra steeds ’’n nommer 10 in haar kop. Sy sal altyd ’n 10 dra. Dit het sy lankal in haar lewe besluit. “Ja en as die 10 nie pas nie knip jy seker jou “labels” af en werk Kailen se 10’s aan jou klere vas,” merk Annalise droogweg van die kant af op.
“Natuurlik,” giggel Erika, sonder om eers te lyk of sy skaam of sleg voel daaroor.
Michelle begin vertel hoe die jare haar geleer het om altyd haar broeke hoog op te trek – dit versteek, uhm, wat versteek moet word. Annalise het weer geleer dat sy liefs nie haar broeke moet hoog optrek nie, dan sit dit onder haar arms. Haar broeke word dus weer af getrek.
Ek giggel in my kop.
Ek sien uit daarna om te kom waar Ebeth en Michelle en Annalise en Erika en Corieta is. Ek glo nog dat ek die regte nommer moet dra en dat ek moet dieet tot daar nie “flaws” in my figuur is nie.
Hulle is oor dit. Tyd het hulle geleer om mal te wees oor hul lywe en net eenvoudig dit wat pla weg te steek of te spot daaroor. Dis ongetwyfeld volwasse wees oor jou lyf.
Ek bedank die ontbyt wat hulle besluit om eers by die Tolhuis te gaan eet na die tyd. Oom Lionel, Voorsitter van die Atletiekklub was so gaaf om als te reël. Ek moet bieg: Ek moes by die huis kom. Ek was tog so bang ek vergeet die storie in my kop...
Na die tyd hoor ek die ontbyt by die Tolhuis het sommer vorentoe gesmaak na die 7km treinspoor stap. Reint-hulle het hulle blykbaar bederf met roosterkoek met spek en kaas en chips daarby. “Man, dit was heerlik,” vertel Corieta. Met ’n klem op die heerlik. “Chips vir ontbyt was lanklaas so lekker!”
En ek sê: Ek salueer julle. Lentevroue met vrede oor julle lywe!
Die lieflike uitsig van die treinspoor af.

Die treinspoor staproete is regte iets wat jy maar kan aanpak. Dis pragtig op die berg met watervalletjies en lieflike plantegroei. Jy kan die stap gerus afsluit met ’n eetbederfervaring by die Tolhuis. Reint en Karien weet hoe om hul gaste op die hande te dra. Gaan besoek gerus ook hul Facebook bladsy:Die Tolhuis Restaurant en Padstal.

Comments

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep