Charlies se kersligkinders

Woensdagaand sit ek agter Charlie Hofmeyr se blou voorhooggordyn saam met Retief Burger, baie bekende gospelsanger. Ons drink Hot Chocolate en gesels oor die storie van ons elkeen se lewens. Tussendeur hot chocolate en baie praat knibbel hy aan Hester se ma se lekker biltongtoebroodjies. Gemaklike mens, die Retief. Man so na aan God se hart, hoor ek sommer gou.

Ek voel yskoud van senuwees voor sy vertoning. Aan die anderkant van die blou skoolgordyn is 'n klomp honger kinders met seer stories. Ek weet. Daar's 'n handjievol ouers wat daar is omdat hul kinders nie alleen kon kom nie. Daar's NG-predikante en daar's 'n Shofar-pastoor...

EK weet Retief weet hoe om atmosfeer te skep en mense se harte te raak, maar tog. Hy het 'n vaal ou skoolsaal en geen "band" tot sy beskikking daardie aand. Dis dit. Maar die Here was daar, jy kon dit voel. So baie mense het ook vooraf gebid vir hierdie geleentheid.

Die aand is meer as waarvoor ek kon bid, baie meer. Maar dis wat daarna gebeur wat my heeltemal stil kom maak het. Stil voor die almagtigheid van God...

Ek staan Donderdagoggend op met iets in my maag, iets van 'n bang opwagting. Ek besef ek gaan by die skool instap en talle kinders gaan na my kyk met een vraag op hulle lippe: "Wat nou juf.?"

En al weet ek Jesus is my redder en ek leef elke dag in nederige afhanklikheid van Hom, weet ek nie hoe om alle vrae te antwoord nie. Ek voel so blootgestel, en nietig en onbevoegd.

Ek bel Retief inderhaas - hy kan Ceres nie verlaat voor hy my nie gehelp het nie! Ek wil hierdie handjievol harte wat nuut vir die Here gewen is so mooi hanteer. Ek wil hulle vrae reg antwoord. Ek wil hulle reg begelei.

God is getrou.

Retief is nog in Ceres en hy's bereid om 'n koffie in te pas voor hy in die pad val terug Kaap toe. Oor cappacinos in Eden, maak Retief my rustig. Ons bid saam voor ek teruggaan skooltoe.

Met die verloop van die dag gebeur nog baie goedjies.Laatnamiddag voel ek moeg, doodmoeg van alle emosie. Twee engele neem my in hul kantoor en bid vir my. Sommer net nog vir 'n bietjie laaste pasella energie vir godsdiens saam met die kinders daardie aand.

Onder die sterrelig sit ek Donderdagaand 2 Sept saam met 'n handjievol kinders. Bekeerde kinders. Nuwe kinders. Kinders wat vir die eerste keer besef het dat die feit dat jou ouers christene is, beteken nie dat jy ook een is nie. Kinders wat besef het dat om die Here te dien 'n leefwyse is.

EK bid van dag een by Charlie Hofmeyr dat die seuns sal begin opstaan vir die waarheid. Dis immers hulle wat eendag die hoof van hul huis sal moet wees.

Ons God is getrou.

Donderdagaand is dit nie die meisies wat praat nie. Die meisies is ook stil verwonderd. Dis die seuns wat praat. Sommige raak hartseer. Sterk manne, rugbymanne en boerseuns raak hartseer. Ek raai hulle pa's het hulle ook grootgemaak dat 'n man nie huil nie.

Dit maak nie meer saak nie. Hulle huil oor die Here. Ek huil saam in my hart, van blydskap. Ek weet die manne is sterk genoeg om 'n skool brand te steek met hul geloof. Alhoewel die meisies stillerig is weet ek hul harte is reg. Met baie van hulle kom ek al 'n paadjie. Ek weet ook dat hulle half stil eerbiedig is om te sien hoe kragtig die Here in die seuns se lewens gewerk het.

Laatnag sms ek vir een van die koshuisseuns 'n vers wat hy moet gaan lees - en dat ek so trots op hulle is. Hy stuur my terug na Spreuke om self iets te gaan lees:-)

Vanoggend kom sewe seuns vroegmore in my kantoor bymekaar om te bid vir die dag. EK hoor die heel eerste keer sedert my begin by Charlie Hofmeyr hierdie jaar hoe jongmanne passievol bid.

Die Here het my al wonderlike dinge laat ervaar, maar vanoggend was een van Sy grootste "blessings."

Die Here is oneindig groter as wat ons ooit kan dink. Hy gebruik Paulusse en Dawids en Maria's om 'n verskil te maak. Jy hoef maar net jou hart oop te maak en jouself beskikbaar te stel vir die Heilige Gees. En hoe wonderlik is dit om daardie eerste blink van 'n nuwe hart in die oog te sien.

Hierdie week sal een van die mooiste onthou-weke in my ganse lewe wees...

Dis 'n ervaring wat jy nie met woorde op papier kan sit nie. Dit het my egter nie gestop om steeds te probeer nie!

"Blessings" vir my kersliggroepie Donderdagaand. Ek weet julle gaan nog groot vuur maak!

Comments

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep