Sushi en nuwe babas


Ek is al die laaste ses maande ongelooflik lus vir sushi en whisky. Whisky het ek saam met my skoonmense op yskoue Engelandse aande leer drink. Net sulke klein, klein bietjies op ys. Toe gaan besoek ons Skotland en proe die moeder van whiskys. Sedertdien is dit ‘n klein bederf wat ons, onsself op spesiale aande gun. Ons drink meer as spaarsamig aan ons 16jaar Glenlivet Nadurra wat nog van skotland af saamkom. Vir nege maande is daar nie ‘n enkele whiskyglas in ons huis vuilgemors nie.

 Ons besluit ons om onsself te bederf. Amé is immers een week en ‘n dag oud. Ons kry al van haar winde uitgevryf, ons begin kry die bad reg (Sy het niks eens gisteraand gehuil tydens badtyd nie!) en doeke omruil is nie meer so nare besigheid as aan die begin nie.

 Maar as daar ‘n klein babatjie in die huis is, gebeur niks meer sommer so maklik nie. Ons moet eers sorg dat daar ‘n voorraad melk is vir Amé se volgende voeding voordat Lambrecht klein bietjie whisky vir ons albei op ‘n paar ysblokkies kan skink. Ons “cheers” op ons nuwe dogtertjie voordat ons die eerste heerlike slukkie op ons tonge rol.  Dis anderster lekker om langs mekaar op die bank te kan sit voor die televisie. Ek nestel my onder Lambrecht se regterarm in. Alleentyd saam met my man was nog nooit so heilig lekker nie.

 Toe ons doodseker is dat Amé slaap, skakel Lambrecht die nuwe Chinese wegneemplek in Paarl se hoofstraat, Mango sushi and Chinese Take aways. Ons bestel sushi, omdat ek al maande daarvoor lus is. Terwyl hy ry om dit te gaan oppik, lê ek sommer net ‘n bietjie toe oë op die bank. Klein dingetjies het groot luukses geraak in my lewe. Kort oomblikke se rus op die bank raak kosbaar. Lees is ‘n luukse waarby ek nog nie uitgekom het nie. Sommer net ‘n uurtjie se televisie onder Lambrecht se blad was nog nooit vantevore so spesiaal nie.

 Ons sushi arriveer en ons eet dit langs die eetkamertafel. Dis heerlik. Lambrecht maak verskoning dat hy my nie na ‘n restaurant neem nie. Maar geen restaurant kan op hierdie oomblik lekkerder wees as ons eie knus huisie, met Amé in haar Mosesmandjie digby ons, en Kyknet op die agtergrond nie.

 Ons lewens het onherroeplik verander. Ek sal dit egter vir niks in die wêreld verruil nie. Dis moeilik as jy drie-uur in die oggend na jou weekoue baba kyk en moedeloos vra: “My liefietjie, wát is fout? Jy huil al die laaste twee ure!” En tog het jy daardie bondeltjie mens liewer as wat woorde kan beskryf.

 Ek staan vanoggend voor die swartpotte wat ek vir ‘n verjaarsdag by my ma en pa gekry het, besig om vir ‘n slag ordentlike kos vir ons te maak. Moedeloosheid kom vou mos sommer so onverwags om jou skouers soos ‘n warm wolkombers. Ek voel hoe die trane sommer net kom, en ek weet dis van moeg. ‘n Wolkerige kop kan mos net nie reguit dink nie. (Amé was nie lus vir slaap gisteraand nie)

 Ek onthou dat ek nog nie by God was vanoggend nie. Die Bybelse dagboek wat ek by tannie Alba gekry het lê sommer op die kis in ons televisiekamer – sodat ek vinnig kan lees as ek kanskry. Ek lees vanoggend se dagstukkie vlugtig en  kry ‘n nuwe rustigheid. Jesus se rustigheid.

 Skielik het Jesus daar voor die vroue gestaan en hulle gegroet. Hulle het nader gekom, sy voete gegryp en Hom aanbid. Toe sê Jesus vir hulle: “Moenie bang wees nie.” (Mat.28:9-10)

 Ek onthou hoe Angelique, ‘n vriendin in Engeland, dikwels vertel het dat sy en haar man laataand as die kinders in die bed was, vir elkeen ‘n koppie tee in mooi teekoppies gemaak het en dan saam gedrink het. Hulle het dikwels nie eens gepraat nie. Hulle was te moeg om te praat. Die saamwees was al waarna hulle verlang het.

 Ek sal ook vir my en Lambrecht mooi teekoppies moet kry vir laatnag Angelique. En ek sal Matteus se versie teen die yskas opplak. Want Jesus sal my ook kom ontmoet waar ek nóu is. Hy sê mos self dat daar niks te vrees is nie.

Comments

  1. Hi Sune, dit was absoluut heerlik gewees om dit te lees en ek het so 'n dajavu gevoel gekry. Ons oudste is nou 3 en jongste 22 maande. Daar eerste paar maande is verskriklik rof, maar dit raak beter en 'n mens begin weer klein dingetjies verskriklik baie waardeer, soos net om te sit en 'n goeie boek te lees. Sterkte, ek weet dit sal goed gaan!!

    Groete
    Servaas

    ReplyDelete
    Replies
    1. Haai Servaas

      Sien vanoggend eers die boodskap. BAIE goed om te hoor iewers in die toekoms sal ek weer kanskry vir iets lekkers, soos lees!

      Groete

      Delete
  2. my Niggie. Jy weet net hoe. jy inspireer met met elke storie. Is so lief vir jou.

    ReplyDelete

Post a Comment

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep