My Marietjie-sussie kom kuier ‘n week na
Amé se geboorte vir tien dae. Sy klim die Interkaapbus met haar swanger lyfie
in Pofadder. Ons kry haar vroegoggend in Malmesbury. Sy lyk vodde. Sy het my
uit die staanspoor gewaarsku dat sy kom kuier om kos te maak en huis te hou. Sy
weet net so min van babas. Hare moet nog arriveer.
Ander vrouens met pasgebore babas kry
geleentheid vir jammer wees vir hulself. Hulle kry kans om te rou oor hul
nie-meer-swanger lyfies wat steeds swanger lyk. Hulle word verskoon as hul
heeldag in nagklere loop en nie kos maak vir hul mans nie.
Marietjie het baie goeie eienskappe.
Simpatiek wees is nie een van hulle nie. Teen Sondagaand meld sy aan dat sy nie
meer kan wag vir Maandag nie. Ons gaan bietjie tuin werk. Ek moet uit die huis
kom en son op my lyf kry. En ons gaan die oggend begin met ‘n ent se stap. Ek
en Amé is Maandagaand ewe moeg van al die vars lug. Tussendeur die tuin werk
het Marietjie nog haar weg oopgesien om ‘n hemelse lamspastei aan mekaar te
slaan. “Surra, en jy gaan ook elke dag kos maak vir jou man as ek nie hier is
nie. Ek gaan elke oggend sms om te vra wat julle vandag eet.” Ek knik maar net
my kop, te bang om my teë te sit.
Dinsdag wil sy weet waar my hekelpenne is.
Ek weet ook nie. Dit kos diep grawe. Ons besluit om die dorp vir ‘n eerste keer
aan te durf. Dis nou vir wol. Marietjie voel Amé se spoegdoeke en kombersies
moet almal omgehekel word. As ek saans of bedags opgeskeep is met myself, kan
ek hekel. Nog ‘n bevel. En ek moet sommer begin lysies maak van als wat ek beplan om te doen as Amé nou in ‘n roetine
kom. Ledigheid is die duiwel se oorkussing. Sy klink so kwaai dat ek dadelik
met my lysie begin. Ek skryf natuurlik “hekel” heel bo-aan. Sy lyk tevrede.
Woensdag maak sy die heerlikste boontjiesop.
Teen hierdie tyd het Amé ook al haar hart gesteel. Amé sit eintlik toe oë op
haar tannie Rietjies se skoot op die bank. Marietjie gee nou ook al lankal nie
meer om, om Amé te troos of land en sand met haar te gesels nie. Die tweetjies
deel ‘n verjaarsdag en hou klaarblyklik sommer baie van mekaar.
Woensdagaand kom verras haar man haar. Die
Boesmanland is koud en die bed is leeg. Stan en Marietjie maak ons huis knus en
gesellig met hulle teenwoordigheid. Saterdagaand braai Stan vir ons steak en
ons kuier so lekker op die stoep dat Marietjie elke nou-en-dan net weer vir
Stan moet herinner dat hy nie op sy eie werf is nie. Hier staan die huisies dig
opmekaar. Mens moet sag kuier.
Maandagmôre ry hulle huistoe – na hulle
hartsplek anderkant Pofadder. Ek huil soos kleintyd as ek Maandagoggend moes
koshuistoe. Maar Marietjie los my huis vol onthougoed van ‘n hemelse tien dae.
My tuin is ‘n lushof van blommetjies. Een spoegdoek is klaar omgehekel – ‘n
sagte pienk randjie. Die ander spoegdoeke lê op ‘n stapeltjie langs die wol.
Dis net vir inval.
Hulle was skaars weg of die sms kom…”Wat
eet julle vanaand?”
Maandag was heeldag chaos. Ek dink Amé het
verlang na tannie Rietjies en oom Stan. Getrou aan my belofte aan Marietjie het
ek kos gemaak. Toe Lambrecht Maandagaand tuiskom kon hy weglê aan Richmondrib,
rys en slaai. Ek kon nie Maandag by die hekel uitkom nie, maar ek glo Marietjie
sal verstaan…
Dit is histeries snaaks. Ek mis julle so baie. Marietjie het my ook sommer nou gemotiveer om nie ledig te wees nie. En lag so lekker vir ou Stan. Hy sal moet fluister as hy in engeland kom kuier! hier hoor die bure as jy poep.
ReplyDeleteNiens, sien nou eers die boodskap. Se anderdag vir die tweetjies ons moet vir ons 10jaar huweliksherdenkings 'n bietjie Skotland toe gaan...Marietjie antwoord sy was dan nog nie eers in die Wildtuin nie. Sy het geen behoefte na oor die waters. Gee my so kramp!
ReplyDelete