2015 stoepdans op Millerton
Oujaarsdans 2015 gebeur op Marietjie en Stan se heerlike
plaasstoep. Ons is net ‘n handjievol uitgenooides. Elkeen sal bydra tot die
laaste maal vir 2015. Stan leen luidsprekers sodat ons die musiek ordentlik kan
hoor op die stoep.
Donderdagoggend help ek Marietjie om die duisende (of so
voel dit) blikkies en potte plante wat haar stoep versier, af te dra. My sussie
is ‘n aggressiewe, kreatiewe versamelaar. Sy skep iets uit niks en verfraai hul
Millerton-werf al te vrolik daarmee. Dit maak stoep skoonmaak dus ‘n werk.
Ons beplan die sitplek op die gras, waar ons gaan eet, en
waaraan ons sal knibbel vooraf.
Marietjie grawe diep in Stan se drankkas en ontdek sowaar nog ‘n bottel
bubbly van Stan se 21st. Sy kan nie meer beïndruk wees met haar
vonds nie. Wat is nuwejaar dan tog sonder bubbly wat spuit.
Ons hele dag word gewy aan voorbereidings. Tussendeur word
Andréa gevoed soos nodig, Daniël ruk vir die tweede keer drie van Marietjie se
fraai geblikte aalwyntjies uit en niggies Anmari en Amé byt, stoot en klap
mekaar as ons, ons rug draai.
Skuins na 6 is ons bloedjies silwerskoon en gelukkig. Amé en
Anmari lyk selfs vir die oomblik asof hulle ‘n klein bietjie van mekaar hou.
Ons mans lyk vars en uitgerus na ‘n dag van “boer.” (Ek vermoed vandag se boer
was meer in die lyn van rondry om die chaos tuis te ontvlug!)
Ons eerste gaste arriveer skuins voor 7. Frans en Nicola en
haar ma, tannie Maggie. Nicola klim af met ‘n heerlike “nuwejaars”-tert vir
saam met koffie heelwat, heelwat later. Nicola neem ook sommer dadelik
verantwoordelikheid vir van ons kinders. ‘n Mens hou mos sommer dadelik van
sulke gawe mense! Minute later stop die Kennedy’s by die voorhekkie. Volbloed
Namakwalanders. Dis die eerste keer dat ek hulle ontmoet, maar ek hou sommer
dadelik van hulle. Laaste arriveer my
Pa-hulle. Hulle is verantwoordelik vir broodjies vir die aand. Hulle kom klim
sommer af met ‘n boks Deeghuys rolletjies. Deeghuys het nuut oopgemaak op
Kakamas. Ek vermoed my Pa en tannie Marinda het Deeghuys leeg gekoop!
Die kinders speel die grootste deel van ons Oujaarspaartie
in Anmari se sandput. Hulle kom eet later braaiwors en broodjies op Marietjie
se groen, grasdeken. Dan kondig Amé en Anmari aan hulle wil asseblief gaan
slaap. Op hul gesiggies kan ek sien 2015 was nou lank genoeg.
Die aand is een om nooit te vergeet nie. Die kos en
geselskap is voortreflik. Marietjie het die oranje kombuishorlosie waarmee ons
grootgeraak het, uitgestal sodat ons die minute kan aftel. Om 12-uur speel Jay
en Lianie se weergawe van “Die goeie oue tyd”. John skiet Stan se 21st
bubbly en dit word geskink in Stan se ouma Gerrie se fênsie bubbly glasies. Ons
soen en druk mekaar vooerspoed toe. Ek en manlief klink nóg ‘n keer op ons 5de
huweliksherdenking.
My pa vertel ons optimisties van sy nuwejaarsvoornemens. Hy
gaan rietskraal word in 2016. Ons gaan hom aan die einde van die jaar nie herken
nie. Volgende jaar se stoepdans gaan hy nie trappies gebruik nie. Hy gaan
sommer so ligvoets oor die stoepmuurtjie wip om by die “dansbaan” uit te kom.
Ek vertel dat ek oorweeg om in 2016 alkohol op te gee. Ek
dink nog daaroor. Terwyl ek dink maak ek my en Stan se bubbly klaar. My swaer
het geen waardering vir bubbles nie!
Toe begin groet en vertrek almal stadig maar seker. Behalwe
die Kennedy’s. Stan oortuig John om nog ‘n brandewyn en Coke of twee of drie
saam te drink. Teresa draai haar toe in die grasdeken, want teen hierdie tyd
het selfs die somerslug ‘n effense byt.
En toe ervaar ek vir my eerste keer Namakwalanders…Erg
vermaaklik! Teresa vertel hoe John haar sommer agter Jêt in Springbok gevra het
of sy nou wil trou of nie. Net so. Hy het haar in Garies raakgevry waar sy in ‘n
eetplek gewerk het. Hy moes deur Garies na een van hul plase ry. Soos John nou
spog – hy was slim. Hy’t ekonomies gevry. Dan voeg Teresa so half verergd by:
John sê mos die mense van Garies dra witbroeke deur die week. Sy sien ons weet
nie wat sleg is daaraan nie. Dit beteken eintlik hy dink hulle doen f@kk*l deur
die week, verduidelik sy eers. Ons lag dat die trane loop vir die twee se
stories. Hulle is uitstekende storievertellers.
Minute voor drie huil ons jongste. Ek voel die paniek in my
keel. Sy nag is nou sekerlik verby, en ons sin het nog nie eens begin nie.
Drie-uur nuwejaarsmôre loop lê ek lepel met ons klein Daniël. Hy’t ook sy
sussie wakker gegil en manlief gaan klim by haar in die bed. So begin ons 2016.
Elkeen by ‘n kind in die bed, waaier se gedreun die enigste klank op die werf.
Of so voel dit.
Ons raak weer so met die heilige stilte wakker. Net die
waaier en die geklets van voëltjies. En so kom my nuwejaarsvoornemens na my -
so op ‘n golf van stilte. Terug by die huis skryf ek dit op die swartbord in
ons kombuis. Ons wil nie vergeet wat ek op die 1ste Januarie 2016 daar in my
Millerton-kooi besluit het nie.
Comments
Post a Comment