DRAMA: Speen van die fopspeen
‘n Raps meer as ‘n week gelede oortuig ons, ons oudste om
haar dummy vir haar klein Andréa niggie te gee. Sy lyk heel ingenome met die
gedagte. Die oorhandiging geskied die
oggend net voordat ons vertrek uit Strandfontein. Ons het ‘n week lank heerlik
gekuier saam met ons plaasfamilie.
Dis ‘n groot geleentheid. Eers word die pragtige pienk NUK
dummy wat ouma Marinda nog vir ons gegee het, in kookwater gekweek. Daarna prop
Rietjies die dummy in klein Andréa se mond. Sy lyk eers vies oor die nuwe
dummy, maar dan doen sy haar deel mooi. Sy begin suig te kostelik aan die
dummy. Amé is so trots op haar vrygewigheid, sy wil sommer mense op straat stop
om te vertel.
Iewers oppad huistoe vra sy vir die eerste keer na haar
dummy. Ons verduidelik geduldig dat sy mos so gaaf was om haar dummy vir haar
baba niggie te gee. Later huil sy hartstogtelik en dreig om boetie sin uit sy
mond te ruk.
Vir ‘n week lank voer ons die stryd. Soms gaan dit beter, en
dan wil ons optimisties glo ons is oor die ergste. Dan gebeur daar iets kleins
en haar dogtertjie hartjie is baie seer. Sulke tye kan net haar dummy troos. Sy
kry nie saans geslaap sonder haar dummy nie. Dis ‘n absolute stryd om haar aan
die slaap te kry.
Vriendin Emsie stel voor ek koop vir haar iets in die dummy
se plek. Iets spesiaals wat sy self uitkies. Vandag is ons in Paarl mall. In
elke winkel soek ek naarstigtelik na daardie een spesiale item wat haar lewe
sal beter maak. Toe loop ons dit in MR Price Home raak. So ‘n groot, groen
krokkedil. Ons kind verloor plotseling haar hart op Krokkie. Krokkie kos
heeltemal te duur na my smaak. Ons Amé-kind oortuig my egter dat met Krokkie in
haar arms gaan sy beslis soos ‘n klip slaap.
As dit jou laaste, wanhopige uitweg is, swipe jy maar jou
kaart.
Ons kom middagete by die huis. Na vinnige broodjies probeer
ek albei tot ruste bring. Sonder sukses. Manlief is ook tuis vir middagete. Hy
kry Daniël aan die slaap terwyl ek met Amé worstel. Sy is verwese van moeg. Ek’t
ook nie geweet mens kan in so ‘n staat ingaan nie! Na byna ‘n uur is ek
tranerig. Ek bel Boesmanland toe. Marietjie belowe om gou in al haar baba
tydskrifte te gaan grawe. Dalk is daar iewers raad. Of vyf vinnige stappe om te
volg. Of net iets!!!
Manlief was van die begin af baie beslis: Ons is beslis kláár
met die dummy. Vanmiddag gaan vra ek hom, nee ek sméék. Kan ons nie asseblief
maar vir haar ‘n dummy gee nie. Asseblief. Hy moet die som maar self maak –
dummy of sterk senuweepille vir sy half mal vrou.
My man kon my desperaatheid sien.
Nege dae later, het ons vanmiddag weer vir ons oudste ‘n
dummy gegee om net te suig terwyl sy middagslaap. Toe ek die dummy in haar mond
sit, was sy dadelik in droomland. Dadelik. Ek’t nog vir so klein bietjie hardop
vir haar sit en bid. Sommer net vir ‘n dogtertjiehart vol vrede en liefde.
Ons het ‘n kosbare les geleer uit hierdie hoofstuk. ‘n Les
wat ek eerder vroeër as later sal leer. Ouers is nie altyd reg nie. Ons neem
nie altyd die regte besluite vir ons kinders nie, al is ons intensies altyd
mooi. Dan moet jy edel genoeg wees om te sê – ons was nie hierdie keer reg nie.
Ons is jammer. Vergewe ons. Ons gaan nou regmaak. Jy is ons kind en ons is
verskriklik lief vir jou.
Comments
Post a Comment