die Melktert
Ek voel vandag teleurgesteld in myself. Eergister was Nasionale Melktertdag en ek het ń wonderlike geleentheid om melktert met koffie te geniet, misgeloop. Iewers in die harwar van blou Maandag het my brein gesê – blou Maandag en melktert loop nie saam nie. Nou is ek spyt! My skoonpa vertel graag van sy skoonmoeder, Dora, se ongelooflike melktert. Die kors het perfek opgepof en die melktertpap was blykbaar so na aan volmaak as wat jy kan kry. Ek het nooit die voorreg gehad om die perfekte melktert te proe nie. My skoonma het blykbaar een maal haar hand gewaag aan haar ma se resep. Dit was so ń grootse oomblik dat pa Danie foto’s daarvan geneem het. Nou kyk hy maar na die foto’s as die melktertlus hom oorval, vertel hy graag. Ons het ook grootgeword met melktert. My ma was nie ń vrou vir langpaaie nie en dus ken ons nie eintlik melktert met ń kors wat fraai oppof soos ń ballerina tutu nie. My ma sin was korsloos of met daardie smeerkors, wat net so lekker is. Ons familie