die Melktert

Ek voel vandag teleurgesteld in myself. Eergister was Nasionale Melktertdag en ek het ń wonderlike geleentheid om melktert met koffie te geniet, misgeloop. Iewers in die harwar van blou Maandag het my brein gesê – blou Maandag en melktert loop nie saam nie. Nou is ek spyt!

My skoonpa vertel graag van sy skoonmoeder, Dora, se ongelooflike melktert. Die kors het perfek opgepof en die melktertpap was blykbaar so na aan volmaak as wat jy kan kry. Ek het nooit die voorreg gehad om die perfekte melktert te proe nie. My skoonma het blykbaar een maal haar hand gewaag aan haar ma se resep. Dit was so ń grootse oomblik dat pa Danie foto’s daarvan geneem het. Nou kyk hy maar na die foto’s as die melktertlus hom oorval, vertel hy graag.

Ons het ook grootgeword met melktert. My ma was nie ń vrou vir langpaaie nie en dus ken ons nie eintlik melktert met ń kors wat fraai oppof soos ń ballerina tutu nie. My ma sin was korsloos of met daardie smeerkors, wat net so lekker is. Ons familie is nie melktert kenners nie. As die resep net sê “Melktert” en daar is genoeg kaneel oor, is ons harte gelukkig. Dan wil ons net koffie maak en melktert eet!

Nadat my ma na haar hemel huis is, trou my pa gelukkig weer met ń tannie wat hou van melktert maak. Ek was so verlig. Oumas moet kan melktert maak. Amé en Daniël was nog nie eens op vaste kos nie, toe voer oupa André hulle al skelmpies sulke klein happies melktert. Hulle kon nog nie ń woord praat nie, maar hulle armpies het vies geswaai as Oupa se happies nie vinnig genoeg kom nie.

Ek was tog so verlig om te sien ons kinders is soos ons: Melktert eters.

My skoonouers woon in Engeland, maar het ń baie oulike Suid-Afrikaanse tandarts daar in hul dorp ontdek. So vra die tandarts eendag na een van hul afsprake of my skoonma asseblief vir hom ń melktert kan bak.

Ons almal kry ons dae wat ons verlang na melktert en moerkoffie en ons ouma. Soos Mari-Louis nou die dag op Kwêla sê: Sy dink dis in ons Suid-Afrikaners se DNA.

Ek dink die “kaneel” in D.J Opperman se gedig “Sproeireën” het beslis ook iets met sy ouma te make.

Sproeireën
My nooi is in ń nartjie,
My ouma is in kaneel,
Daar’s iemand...iemand in anys,
Daar’s ń vrou in elke geur.

(Uittreksel)

Comments

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep