Gewigverloor teen tyd ...

My pa laat weet per whatsapp hy weet nou nie meer watter kant toe nie. Ons een stiefsussie trou hierdie jaar (Stief is darem so ń stief-woord om te gebruik!) en hy wil darem regtig nie graag die dikste op die troufotos wees nie. Soos dinge nou staan ...

Toe is dit die naweek atletiek in Kakamas en dit het niks gehelp nie. Hy het weer geen brieke gehad met die pannekoek en hotdogs nie. My minder simpatieke middelsus beveel aan dat hy elke geleentheid sal aangryp om kalorieë te verbrand. Dalk kan hy sommer sy tone wikkel op die toilet, aan die etenstafel en terwyl hy saans Bybel lees in die bed.

Anderdag sê Marli se skoonma iets wat my so lekker laat lag het. Liezel vertel hulle het haar seun en die se meisie gaan inskryf vir hul eerstejaar op Stellenbosch. Daar in die warboel van mense en gesigte en chaos het hulle vir ń oomblik nie geweet WAT om te doen nie.

Toe gaan eet hulle maar iets.

As ons nie weet wat om te doen nie, gaan eet ons maar iets, sluit sy haar storie verskonend af. Ek geniet dit so, want sy som ons Nel-gedrag ook in-die-kol op. Ons is nie van daardie mense wat ooit vergeet om te eet nie. Of wat so ontsteld was dat ons nie kos oor ons lippe kon kry nie. Of wat so gespanne was dat die reuk van kos ons heeltemal afgesit het nie. Ek was nooit tydens my swangerskappe NIE lus vir kos nie.

Onlangs vra iemand my of daar enige tipe kos is wat nie goed is vir my nie, of wat my maag ontstel of wat my siek laat voel. Ek dink lank en diep. Daar kom absoluut niks by my op nie. Ek voel nie eens skuldig om per geleentheid boerbrood met DIK vet daarop te eet nie. Kaiings in enige hoeveelheid maak my niks. Al siek wat kos my laat voel is siek van teleurstelling in myself vir my vergrype, ná die tyd.

So het ons op Makkiesplaas grootgeword. Met koekie-en-beskuitblikke wat altyd tot oorlopens toe vol was. Ons het nooit ń geleentheid laat glip om koffie uit die bottel te skink en daardie blikke uit te ruk nie. Dis die einste blikke wat my pa nou so tot raserny dryf en sy deursettingsvermoë toets tot ń punt wat hy net nie kan weerstaan nie.

In sy jonger dae was sy spoed hoër en sy metabolisme vinniger. Toe kon hy maar koekies eet. Nou wil die som net nie meer klop nie. Sy grootste hemde sit blykbaar deesdae so styf dat hy hoendervleis kry daarvan.

En die tyd loop stadig maar seker uit. Ons weet dat troukoors hulle vinnig gaan beetpak as Kyle eers daardie ring aan Ana-Alicia se vinger gesteek het. Ek gaan beslis ook nie die vetste sussie op die troufotos wees nie Pappa.


Ons sal waarskynlik meer moet doen as tone wikkel pappa. Ek weet ons kan. Vet is mos genadiglik nie van sement nie!

Comments

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep