Basaar
Vrydagmiddag ’n week gelede hoor ek so half per ongeluk by ’n vriendin van Silwerkruin (Huis vir bejaardes in Wellington) se kerkbasaar. Ek kan my geluk nie glo nie! Ek het grootgeword met meer kerkbasaars en kermisse as wat ek op my twee hande kan tel. Ek is mal oor die kos en goetertjies en atmosfeer van ’n basaar. My ma moes altyd goed bring vir Kakamas NG Kerk se Boesmanland tafel. Mens onthou mos die verlede soos jy dit wil onthou. In my kop was die tafel altyd uiters gewild. Daar was ’n goue reël by Kakamas kerkbasaars: Niemand mog iets koop voor die dominee die basaar amptelik “oop gebid” het nie. Ek het al onder gebed geloer en gesien hoe mense hul hand op ’n Boesmanland skaapnek sit – so onder gebed! My pa vrek oor basaarpoeding en basaar/kermis pannekoek. Hy het altyd heeltemal te veel daarvan gekoop. Ons was nooit spandabelrig nie, maar by ’n kerkbasaar het ons pa met ’n skrikwekkende begroting gewerk. Elkeen in die gesin het ruim geld ontvang vir die geleentheid. J...