Basaar

Vrydagmiddag ’n week gelede hoor ek so half per ongeluk by ’n vriendin van Silwerkruin (Huis vir bejaardes in Wellington) se kerkbasaar. Ek kan my geluk nie glo nie!

Ek het grootgeword met meer kerkbasaars en kermisse as wat ek op my twee hande kan tel. Ek is mal oor die kos en goetertjies en atmosfeer van ’n basaar. My ma moes altyd goed bring vir Kakamas NG Kerk se Boesmanland tafel. Mens onthou mos die verlede soos jy dit wil onthou. In my kop was die tafel altyd uiters gewild. Daar was ’n goue reël by Kakamas kerkbasaars: Niemand mog iets koop voor die dominee die basaar amptelik “oop gebid” het nie. Ek het al onder gebed geloer en gesien hoe mense hul hand op ’n Boesmanland skaapnek sit – so onder gebed!

My pa vrek oor basaarpoeding en basaar/kermis pannekoek. Hy het altyd heeltemal te veel daarvan gekoop. Ons was nooit spandabelrig nie, maar by ’n kerkbasaar het ons pa met ’n skrikwekkende begroting gewerk. Elkeen in die gesin het ruim geld ontvang vir die geleentheid. Jy was verplig om daardie geld tot die sent te spandeer. Ons het meer geld vir so middag gekry as vir ’n week sakgeld vir ons jaarlikse Strandfontein vakansies.

Dit was so ongelooflik lekker dat my brein Kakamas kerkbasaars steeds tot in die fynste besonderhede onthou.

Toe ons Vrydagmiddag by Silwerkruin ouetehuis se basaar stop, sien ek die opwinding in my kinders se oë skitter – “Partytjie!” gil Amé opgewonde. Dan wil sy weet of ons regtig ook genooi is. Vlaggies wapper vrolik uit bome en Eden se “SUPERHERO” speel  kliphard. Die geur van braaivleis dra by tot die geselligheid.

Ons kry sommer ’n bierboksie met ons eerste aankope by die jaffel-tafel. Ons koop die mooiste jam-tertjies en verrukklike wortelkoek. Daniël maak wille dansbewegings op maat van die lekker musiek terwyl ’n tannie in ‘n rolstoel vir hom hande klap. In “Lekker land” kan my kinders nie hul geluk glo nie. Ons koop springmielies in sakkies met ’n skapie gesig. Ons koop ’n plastiek barbiepop met lekkers om haar nek. Ons koop ’n naaldekoker met lekkers as lyfie. Ons laai ons bierboks swaar met basaarbederf voor ons huiswaarts keer.

By die basaarpoeding moes ek net vir ’n oomblik na my pa verlang. Basaars maak my en ons kinders se harte gelukkig. Dit was tog wonderlik om te ontdek dat basaar op Kakamas en basaar op Wellington regtig nie so baie verskil nie. Dit bly ’n besonderse en betekenisvolle en bitter lekker aangeleentheid – waar dit ook al is!

Toe ons wegry wil Amé weet of daar weer so partytjie gaan wees. Dit was lekker om haar te verseker ... daar gaan. En ons gaan dit nie mis nie!


Dankie Martha – dis jy wat ons Vrydag op die basaar spoor gesit het.

Comments

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep