die Bergstorie
Ons laaste stop in Greyton is by die Spar vir padkos.
Marietjie smul aan haar steak-en-kidney pastei
soos net ń honger mens kan. Sy sal
Greyton vir twee dinge onthou, praat sy tussen happe deur: Die Boesmanskloof en
Greyton se spar se lekker steak-en-kidney pasteie ...
Ons bergstorie moet mens by die begin, begin. Ons liefde vir
stap kom beslis van my ma af. Dit bruis in ons al drie se are. Stap maak ons
gelukkig. Dit maak ons kop oop en ons gemoedere lig. So besluit ons iewers dat
ons ń roete wil
gaan stap in 2017. Dit gebeur impulsief en vinnig dat ons keuse op die
Boesmanskloof roete net buite Greyton val. Ons reël die
staptog binne twee weke. Ek het by Danie, iemand in ons drafgroep, vir die
eerste keer van hierdie roete gehoor. Nee wat, dis nie ń te moeilike roete nie. As jy
effe fiks is, sal jy dit oorleef. Aldus Danie.
Na hierdie naweek het my sussies ń appeltjie met Danie te skil.
Hulle het my ook aangeraai om in die toekoms liefs maar dinge wat Danie sê met ń knippie
sout te neem ...
Ons slaap Vrydagaand in Greyton oor. Met ons aankoms in
hierdie prentjiemooi dorpie, gaan kyk ons eers waar ons die volgende oggend
moet wegspring. Dis ń
lekker stappie van ons oornagplek tot ons wegspringpunt. Marli raak
senuweeagtig. Kan ons gou by Greyton Spar gaan stop. Sy moet beslis haar
proviand aanvul. Sy kan aanvoel dat sy baie honger gaan raak op die pad.
In Spar verloor Marietjie ook kop en koop vier ekstra bar’s by die biltong, rosyntjies,
provitas en jelly lekkers wat sy reeds het.
Aanvanklik is ons hoogs beïndruk
met ons oornagplek in Greyton. Ons slaap oor by Greyton Eco Lodge/back packers.
Dis absoluut deel van die avontuur, het ons vooraf besluit. Die Eco Lodge is
Greyton se koshuis van vroeër jare
wat net oulik ingerig is as back packers. Ons raak heel nostalgies oor ons “koshuiskamer” kompleet met die koshuisbedjies, bedkassies en kaste. Ons
is van die handjievol gaste vir die nag en ons sien uit na ń wonderlike
nag van lekker slaap voor ons die Boesmanskloof aandurf. Toe ons daardie lig
afsit, begin zoem ń
muskiet. Die geluid is so oorbekend en deel van koshuishuisdae. ń
Koshuismuskiet het ń
lang asem, weet ons van ons Kakamas koshuisdae af. Dit voorspel niks goeds nie.
Saterdagoggend is ons tam en verslae. Dit voel of ons
deurnag het. Hoe is dit moontlik dat een muskiet soveel chaos kan saai?
Marietjie vertel dat sy maar iewers in die nag begin het om die “Onse Vader” aanmekaar in haar kop te herhaal, Marli het haar tone lê en wikkel en ek het myself aan die
slaap gesing in my kop.
Nou lê die
staptog nog voor. Die staptog is geen grap nie. Dis iets tussen stap en
bergklim. Die roete is absoluut wonderskoon, maar dit tap jou laaste energie en
deursettingsvermoë. Toe ons die waterval
bereik, is ons verlig. Die ergste is oor. Of so dink ons. Ons wikkel ons pienk
toonnaels in die water terwyl ons knibbel aan jelly lekkers en peanutbutter
bars. Ons klop onsself op die skouer oor hoe goed ons gedoen het. Die roete is
taf, maar ons drie susters is tawwer. Oor ń
uur of wat sit ons agteroor met ń
yskoue Savanna.
Iewers het ons die kaart verkeerd gelees. Die waterval is
toe halfpad, en nie byna die eindpunt soos ons om een of ander absurde rede
gedink het nie. Ons kom by ń
vurk in die pad en moet kies tussen “Nature’s Beauty” en die Historiese roete. Tussen ons drie koppe lyk die “Nature’s Beauty” na die beter keuse.
Vandag weet ons dit was een van ons grootste oordeelsfoute
ooit. “Nature’s Beauty” breek
selfs Marietjie, die aartsoptimis se moed. Toe ons uiteindelik bo kom, wys die
bordjie dis nog net 1,3km se stap tot by ons huisie. Die aanwysingsbordjie
jubel dit uit: “Welcome to your mountain.”
Marietjie beduie sy kry nie meer haar voete gelig nie, hulle haak agtermekaar.
Sy en Marli lyk gedaan. Ek probeer moed inpraat – ons
moet asseblief net nie nou stop nie. Ek is ook OP. Ons moet nou net deurdruk en
klaarmaak.
Stof en sweet en moeg wys jou slegste kant. Marietjie en
Marli gaan Danie iets vreesliks aandoen as hulle hom ooit ontmoet, kners hulle
die laaste kilometer op hulle tande. Ek gaan beslis ook nooit weer die voorreg
kry om ń staproete
te boek nie. Ek boek onverantwoordelike roetes. Volgende jaar se roete kies húlle.
Toe ons by ons Onverwacht Cottage nr.7 arriveer, plof ons op
ons beddens neer. Marietjie beduie dat ek maar solank kan dink hoe ek vir ons ń lift terug
Greyton toe gaan kry, want stap gaan sy beslis nie weer terugstap nie. Marli beaam
als wat haar ouer sussie sê.
Na ń
middagslapie voel ons weer soos mense. Die uitsig vanaf die Onverwacht Cottages
is asemrowend. Die huisies het geen elektrisiteit nie – slegs kerse en parafienlampe. Saterdagaand eet ons
hotdogs by parafienlampe. Ons braai malvalekkers by kerse vir nagereg. Ek weet
ons gaan eendag as ons 80 is nog praat oor hierdie wonderlike saamwees kuier. Ons
hoor mekaar se harte – ons
lag en gee raad en luister. Ons kruip vroegerig in, want die berglig is koel en
ons lywe is gedaan. Ons al drie slaap in een kamer en gesels tot ons oë toeval.
Die vars berglig laat slaap ons soos ń klip. Toe ek half ses die
kers aansteek en die gasstofie aan die gang kry vir koffiewater, is die sussie
nog nie lus vir opstaan nie. Die kloof lyk donker en gevaarlik so vroegoggend.
Na koffie en Oumabeskuit met kaas, is ons gereed vir die terugtog.
Ons neem die historiese roete terug. Dis aanvanklik ń gemaklike
tweespoor paadjie, wat later verander in ń
onheilspellende hoë
enkelspoor. Ek wil terugdraai. Ek kan nie sulke hoogtes doen nie. Moenie afkyk
nie, beveel Marietjie kwaai. Bly net vorentoe beweeg. Ons weet waar ons gaan
uitkom. Ons sal nou maar net tree vir tree moet aanhou om daar te kom. Ek sluk
my bang en doen die hoogte tree vir tree. En oorleef.
Die roete raak weer lank en uitmergelend na die einde toe.
Marli se voete raak kole vuur van die blase. Ons moet mekaar moed inpraat en
opbeur. Ons knieë en heupe en kuite en boude
pyn nou. Dis warm.
Maar ons voltooi die terugtog ook. Ons stap twee dae agter
mekaar 17km per dag – oor
berge en dale. Ons is so trots op onsself. Ons kan nie glo ons het dit twee
maal gedoen nie. By die eindpunt wonder ons waarom daar nie ten minste medaljes
of sertifikate is om jou geluk te wens met jou prestasie nie!
Marietjie stuur vanoggend ń
foto van hul twee meisiekinders op die plaasstoep, besig om sjokolade te
verslind. Dit was die meisiekinders se enigste vereiste – hulle mamma kan gaan stap, maar sy moet net sjokolade van
die Kaap af saambring. Enige sjokolade, net baie daarvan en dit moet in ń
geskenksakkie wees.
Dankie susters. Ek sal saam met julle oor die Drakensberge.
Ek is die Here ewig dankbaar vir julle. Dankie Stan en Lambrecht en Theunis dat
ons met julle seën kon gaan “bond.” Stan
en Lambrecht, julle is voorwaar SUPER PAPPAS!!!!
Lesse geleer die naweek:
1.
As jy dink jy kan nie meer nie; jy KAN nog. Jy
kan baie meer as wat jy dink.
2.
Soms lyk dit asof daar nie ń uitweg is
as jy verder vorentoe kyk nie. Hou op verder vorentoe kyk. Fokus net hier. Kyk
af en stap tree vir tree soos die pad by jou voete ontvou.
3.
Ons almal se gees het stilte nodig. Ek dink dis
deel van ons DNA. Stilte en vars lig. Niemand het vandag meer tyd nie. Maak tyd
daarvoor. Jy hoor jou Skepper duideliker as daar geen ander geraas is nie.
Pragtige storie Sune, nou kan jy maar hardloop storie ook skryf. Hehehehehe wonder of Danie weet jou susters soek sy bloed.
ReplyDelete