die Bergstorie




Ons laaste stop in Greyton is by die Spar vir padkos. Marietjie smul aan haar steak-en-kidney pastei 
soos net ń honger mens kan. Sy sal Greyton vir twee dinge onthou, praat sy tussen happe deur: Die Boesmanskloof en Greyton se spar se lekker steak-en-kidney pasteie ...

Ons bergstorie moet mens by die begin, begin. Ons liefde vir stap kom beslis van my ma af. Dit bruis in ons al drie se are. Stap maak ons gelukkig. Dit maak ons kop oop en ons gemoedere lig. So besluit ons iewers dat ons ń roete wil gaan stap in 2017. Dit gebeur impulsief en vinnig dat ons keuse op die Boesmanskloof roete net buite Greyton val. Ons reël die staptog binne twee weke. Ek het by Danie, iemand in ons drafgroep, vir die eerste keer van hierdie roete gehoor. Nee wat, dis nie ń te moeilike roete nie. As jy effe fiks is, sal jy dit oorleef. Aldus Danie.

Na hierdie naweek het my sussies ń appeltjie met Danie te skil. Hulle het my ook aangeraai om in die toekoms liefs maar dinge wat Danie sê met ń knippie sout te neem ...

Ons slaap Vrydagaand in Greyton oor. Met ons aankoms in hierdie prentjiemooi dorpie, gaan kyk ons eers waar ons die volgende oggend moet wegspring. Dis ń lekker stappie van ons oornagplek tot ons wegspringpunt. Marli raak senuweeagtig. Kan ons gou by Greyton Spar gaan stop. Sy moet beslis haar proviand aanvul. Sy kan aanvoel dat sy baie honger gaan raak op die pad.

In Spar verloor Marietjie ook kop en koop vier ekstra bars by die biltong, rosyntjies, provitas en jelly lekkers wat sy reeds het.

Aanvanklik is ons hoogs beïndruk met ons oornagplek in Greyton. Ons slaap oor by Greyton Eco Lodge/back packers. Dis absoluut deel van die avontuur, het ons vooraf besluit. Die Eco Lodge is Greyton se koshuis van vroeër jare wat net oulik ingerig is as back packers. Ons raak heel nostalgies oor ons koshuiskamer kompleet met die koshuisbedjies, bedkassies en kaste. Ons is van die handjievol gaste vir die nag en ons sien uit na ń wonderlike nag van lekker slaap voor ons die Boesmanskloof aandurf. Toe ons daardie lig afsit, begin zoem ń muskiet. Die geluid is so oorbekend en deel van koshuishuisdae. ń Koshuismuskiet het ń lang asem, weet ons van ons Kakamas koshuisdae af. Dit voorspel niks goeds nie.

Saterdagoggend is ons tam en verslae. Dit voel of ons deurnag het. Hoe is dit moontlik dat een muskiet soveel chaos kan saai? Marietjie vertel dat sy maar iewers in die nag begin het om die Onse Vader aanmekaar in haar kop te herhaal, Marli het haar tone lê en wikkel en ek het myself aan die slaap gesing in my kop.

Nou lê die staptog nog voor. Die staptog is geen grap nie. Dis iets tussen stap en bergklim. Die roete is absoluut wonderskoon, maar dit tap jou laaste energie en deursettingsvermoë. Toe ons die waterval bereik, is ons verlig. Die ergste is oor. Of so dink ons. Ons wikkel ons pienk toonnaels in die water terwyl ons knibbel aan jelly lekkers en peanutbutter bars. Ons klop onsself op die skouer oor hoe goed ons gedoen het. Die roete is taf, maar ons drie susters is tawwer. Oor ń uur of wat sit ons agteroor met ń yskoue Savanna.

Iewers het ons die kaart verkeerd gelees. Die waterval is toe halfpad, en nie byna die eindpunt soos ons om een of ander absurde rede gedink het nie. Ons kom by ń vurk in die pad en moet kies tussen Natures Beauty en die Historiese roete. Tussen ons drie koppe lyk die Natures Beauty na die beter keuse.

Vandag weet ons dit was een van ons grootste oordeelsfoute ooit. Natures Beauty breek selfs Marietjie, die aartsoptimis se moed. Toe ons uiteindelik bo kom, wys die bordjie dis nog net 1,3km se stap tot by ons huisie. Die aanwysingsbordjie jubel dit uit: Welcome to your mountain.  Marietjie beduie sy kry nie meer haar voete gelig nie, hulle haak agtermekaar. Sy en Marli lyk gedaan. Ek probeer moed inpraat ons moet asseblief net nie nou stop nie. Ek is ook OP. Ons moet nou net deurdruk en klaarmaak.

Stof en sweet en moeg wys jou slegste kant. Marietjie en Marli gaan Danie iets vreesliks aandoen as hulle hom ooit ontmoet, kners hulle die laaste kilometer op hulle tande. Ek gaan beslis ook nooit weer die voorreg kry om ń staproete te boek nie. Ek boek onverantwoordelike roetes. Volgende jaar se roete kies húlle.

Toe ons by ons Onverwacht Cottage nr.7 arriveer, plof ons op ons beddens neer. Marietjie beduie dat ek maar solank kan dink hoe ek vir ons ń lift terug Greyton toe gaan kry, want stap gaan sy beslis nie weer terugstap nie. Marli beaam als wat haar ouer sussie sê.

Na ń middagslapie voel ons weer soos mense. Die uitsig vanaf die Onverwacht Cottages is asemrowend. Die huisies het geen elektrisiteit nie slegs kerse en parafienlampe. Saterdagaand eet ons hotdogs by parafienlampe. Ons braai malvalekkers by kerse vir nagereg. Ek weet ons gaan eendag as ons 80 is nog praat oor hierdie wonderlike saamwees kuier. Ons hoor mekaar se harte ons lag en gee raad en luister. Ons kruip vroegerig in, want die berglig is koel en ons lywe is gedaan. Ons al drie slaap in een kamer en gesels tot ons oë toeval.

Die vars berglig laat slaap ons soos ń klip. Toe ek half ses die kers aansteek en die gasstofie aan die gang kry vir koffiewater, is die sussie nog nie lus vir opstaan nie. Die kloof lyk donker en gevaarlik so vroegoggend. Na koffie en Oumabeskuit met kaas, is ons gereed vir die terugtog.

Ons neem die historiese roete terug. Dis aanvanklik ń gemaklike tweespoor paadjie, wat later verander in ń onheilspellende hoë enkelspoor. Ek wil terugdraai. Ek kan nie sulke hoogtes doen nie. Moenie afkyk nie, beveel Marietjie kwaai. Bly net vorentoe beweeg. Ons weet waar ons gaan uitkom. Ons sal nou maar net tree vir tree moet aanhou om daar te kom. Ek sluk my bang en doen die hoogte tree vir tree. En oorleef.

Die roete raak weer lank en uitmergelend na die einde toe. Marli se voete raak kole vuur van die blase. Ons moet mekaar moed inpraat en opbeur. Ons knieë en heupe en kuite en boude pyn nou. Dis warm.

Maar ons voltooi die terugtog ook. Ons stap twee dae agter mekaar 17km per dag oor berge en dale. Ons is so trots op onsself. Ons kan nie glo ons het dit twee maal gedoen nie. By die eindpunt wonder ons waarom daar nie ten minste medaljes of sertifikate is om jou geluk te wens met jou prestasie nie!

Marietjie stuur vanoggend ń foto van hul twee meisiekinders op die plaasstoep, besig om sjokolade te verslind. Dit was die meisiekinders se enigste vereiste hulle mamma kan gaan stap, maar sy moet net sjokolade van die Kaap af saambring. Enige sjokolade, net baie daarvan en dit moet in ń geskenksakkie wees.

Dankie susters. Ek sal saam met julle oor die Drakensberge. Ek is die Here ewig dankbaar vir julle. Dankie Stan en Lambrecht en Theunis dat ons met julle seën kon gaan bond. Stan en Lambrecht, julle is voorwaar SUPER PAPPAS!!!!

Lesse geleer die naweek:

1.       As jy dink jy kan nie meer nie; jy KAN nog. Jy kan baie meer as wat jy dink.

2.       Soms lyk dit asof daar nie ń uitweg is as jy verder vorentoe kyk nie. Hou op verder vorentoe kyk. Fokus net hier. Kyk af en stap tree vir tree soos die pad by jou voete ontvou.


3.       Ons almal se gees het stilte nodig. Ek dink dis deel van ons DNA. Stilte en vars lig. Niemand het vandag meer tyd nie. Maak tyd daarvoor. Jy hoor jou Skepper duideliker as daar geen ander geraas is nie. 

Comments

  1. Pragtige storie Sune, nou kan jy maar hardloop storie ook skryf. Hehehehehe wonder of Danie weet jou susters soek sy bloed.

    ReplyDelete

Post a Comment

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep