Posts

Showing posts from February, 2011

Steve steel weer harte

My eerste “tape” baie somers gelede was ‘n Steve Hofmeyr “tape”. So diep granaatrooi een met sy gesig daarop. Nommer 2 was “Kyk hoe lyk ons nou,” en ek het altyd hoendervleis gekry wanneer daai snit speel. Lekker goed onthou mens mos soos gister. Met sy eerste vertoning in Kakamas se kerksaal het ek my ma oorreed om my te vat. Steve se koms op Kakamas was ‘n groot ding. Die kerkraad het ook eers lank gewroeg of hul kans sien vir Steve in ons dorpie se kerksaal. Daai kerksaal was nog nooit so vol soos daai aand nie. Steve het met ligte en rook op die verhoog gekom. Die energie van die vertoning was ongelooflik. Teen die einde van die aand was byna heel Kakamas se tannies op hulle stoele - staande. Drie jaar later was hy weer op Kakamas. En weer het Kakamas in sy getalle opgeruk om na Steve te gaan kyk. Ek en my ma was weer daar. En weer het die man ons heeltemal betower. Ondanks soveel negatiewe publisiteit het ek steeds ‘n ding vir Steve. Ek’s ‘n kerkmens en ek’s teen seks voor die hu

Die Hart van Ceres

Gisteraand brand vlamme hoog en onheilspellend teen die berg soos jy Ceres binnery. Ek kan myself eenvoudig nie keer nie – heeltemal betower é n gewalg deur die vlammehel wat rooi en woedend woed hoog teen die berg, besluit ek om laataand deur die pas te ry. Ek ry stadig. Baie stadig. My ruit is oop sodat ek die nag gemeng met vuur eerstehands kan ervaar. Enya sing op die agtergrond. En   vir die volgende halfuur speel my dag soos ‘n film in my kop af. .. My gedagtes gaan gooi draai in die Fourie-woning waar tannie Annalie my soos ‘n eie meisiekind met ope arms verwelkom het. Sy ken my skaars – en tog maak sy soggens vir my die lekkerste bakkie opgesnyde vrugte en joghurt wanneer sy dieselfde vir haar drie oogappel seuns voorberei. Sy leer my kreatief kosmaak in die kombuis. Ek proe my eerste pesto in haar kombuis. Ek sien hoe jy in ‘n kits ‘n franse broodjie rooster en verskillende kombinasies daarop sit – en dit na iets eksoties laat lyk. Ek kan nie wag dat ons kosmaak dat ek een voo

Die wonder van waaghalsig wees

Saterdagaand is ons by Vincent en Georgie se troue – ‘n ongelooflike tuintroue in Georgie se grootwordhuis   tuin. Die mooi geleentheid is net so klipgooi buite Prince Alfred’s Hamlet. Die troue is uitbundig wit en rooi en pienk. Meters en meters wit-en-rooi gestreepte lap lint bind wit servette met vrolike strikke vas. Gaste word na die diens verwelkom onder ‘n reuse boom by die werf se ingang. Deftige kelners dra yskoue bier en witwyn aan terwyl musiek wat heeltemal onbekend aan my is, op die agtergrond speel. Die aand word afgeskop met toesprake en dis veral die heildronk op Georgie se ouers wat my stof tot nadenke gee. Pietie vertel hoe groot hul passie vir die lewe is. Hy verklap dat hul belangstellings so wyd soos die Heer se genade strek – dis nou van musiek tot tuinmaak tot reis, binneshuiseversiering tot kosmaak en mense onthaal. Dit hou net aan. Ek sien hoe oom Adriaan en tannie Leslie (wat terloops die lieflikste grasgroen knielengte rok gedra het) mekaar onderlangs dophou.