Die wonder van waaghalsig wees

Saterdagaand is ons by Vincent en Georgie se troue – ‘n ongelooflike tuintroue in Georgie se grootwordhuis  tuin. Die mooi geleentheid is net so klipgooi buite Prince Alfred’s Hamlet.
Die troue is uitbundig wit en rooi en pienk. Meters en meters wit-en-rooi gestreepte lap lint bind wit servette met vrolike strikke vas. Gaste word na die diens verwelkom onder ‘n reuse boom by die werf se ingang. Deftige kelners dra yskoue bier en witwyn aan terwyl musiek wat heeltemal onbekend aan my is, op die agtergrond speel.
Die aand word afgeskop met toesprake en dis veral die heildronk op Georgie se ouers wat my stof tot nadenke gee. Pietie vertel hoe groot hul passie vir die lewe is. Hy verklap dat hul belangstellings so wyd soos die Heer se genade strek – dis nou van musiek tot tuinmaak tot reis, binneshuiseversiering tot kosmaak en mense onthaal. Dit hou net aan. Ek sien hoe oom Adriaan en tannie Leslie (wat terloops die lieflikste grasgroen knielengte rok gedra het) mekaar onderlangs dophou. Ek sien hoe oom Adriaan gemoedelik oor tannie Leslie se rug vryf. Ongetwyfeld trots op sy vrou. Pietie sluit af dat hulle ‘n wen span is.
Ek ry daai aand by die troue weg en weet dat ek ook hunker na oom Adriaan en tannie Leslie se liefde vir die lewe. En hul honger na nuwe dinge leer en verken en waag.
Sondag besoek ek en Lambrecht ons eerste keer ‘n spa. Dis my valentynsgeskenk en die massering, pedikuur en “facial” is hemels lekker. Toe oë lê en verlustig ek my in al die bederf. Ek drink die klanke van Enya met ‘n nuwe lewensvreugde in. Ek verloor myself heeltemal in die lekker van die oomblik. Ek voel trots dat ek iets nuts kon ervaar – nog gedagtig aan oom Adriaan en tannie Leslie.
Ek en Lambrecht besluit impulsief dat g’n mens na so ervaring kan terugry na jou gewone lewe met normale probleme en irritasies nie. Ons besluit om na Val de Vie te gaan vir Pims en kaaskoek (Engelandse “cocktail.”)
Soos ons geluk dit wou hê is daar op daardie stadium ‘n polowedstryd aan die gang – ook ‘n eerste vir my. Ek het nog nooit ‘n polo-wedstryd in lewende lywe gekyk nie. Daar sit ons toe nou – tintelend van alle bederf, met “cocktails” en pizza en koek. Hemels gelukkig met ‘n dag vol eerstes.
Oppad terug huistoe koop ons Enya se nuutste CD. Ons bêre Kurt en Groot Afrikaanse treffers eers onder my sitplek vir ‘n anderdag.
Nou luister ek en my man net Enya. Ons koop nie meer elke middag dieselfde geur ysies by die winkel op die hoek as ons gaan stap nie. Ons eksperimenteer met die geure. Ons koop anderster koeldrank as wat ons altyd gedoen het. Ons drink nuwe geure slojo’s by Wimpie.
Ons begin waag dit om te waag. En dit is alles te danke aan die waaghalsige Wolfaardts.

Comments

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep