Steve steel weer harte
My eerste “tape” baie somers gelede was ‘n Steve Hofmeyr “tape”. So diep granaatrooi een met sy gesig daarop. Nommer 2 was “Kyk hoe lyk ons nou,” en ek het altyd hoendervleis gekry wanneer daai snit speel. Lekker goed onthou mens mos soos gister. Met sy eerste vertoning in Kakamas se kerksaal het ek my ma oorreed om my te vat. Steve se koms op Kakamas was ‘n groot ding. Die kerkraad het ook eers lank gewroeg of hul kans sien vir Steve in ons dorpie se kerksaal.
Daai kerksaal was nog nooit so vol soos daai aand nie. Steve het met ligte en rook op die verhoog gekom. Die energie van die vertoning was ongelooflik. Teen die einde van die aand was byna heel Kakamas se tannies op hulle stoele - staande.
Drie jaar later was hy weer op Kakamas. En weer het Kakamas in sy getalle opgeruk om na Steve te gaan kyk. Ek en my ma was weer daar. En weer het die man ons heeltemal betower.
Ondanks soveel negatiewe publisiteit het ek steeds ‘n ding vir Steve. Ek’s ‘n kerkmens en ek’s teen seks voor die huwelik. Ek glo dat skei regtig nie is wat die Here vir ons ingedagte het nie. Ek glo dat dit laer as laag is wanneer ‘n man sy vrou verneuk, maar ek koop steeds Steve CD’s en ek kry hoendervleis as hy Neil Diamond liedjies sing. Ek kan my gedrag nie verklaar nie!
Sondag ry ek al die pad van Ceres af om saam met ‘n groepie vriendinne en ‘n vriend na Steve se Rhebokskloof “show” te gaan kyk. Ek vergeet my kaartjie in Ceres en is dus verplig om ‘n tweede te koop, maar ek doen dit met ‘n glimlag vir Steve.
Wilma gaan leen al die vorige dag ‘n piekniekmandjie by tannie Marisa om saam te neem met piekniekkos na Steve. Gedurende die week vooraf het Wilma daagliks “mails” uitgestuur waarin duidelik uiteengesit is wat elkeen moet saambring om te eet, sowel as hoe laat ons mekaar moet kry en hoe groot elkeen se piekniekkombersie moet wees. Teen Sondagmiddag drie-uur is ons almal al taamlik “opgecharge” vir die geleentheid. Devilliers, die man aan Wilma se sy, is baie skepties oor ons opgewondenheid. Hy’s immers ‘n boerseun met goeie waardes .
Ons gooi Wilma se groot pers piekniekkombers oop agter drie tannies met groot koelbokse. Ons Woolworths brownies, hoender samoosas en sosatietjies, franse brode met kase en maaskaas, groenterepies met hummus, pasteitjies en baba quiche’s en chips met doopsous lyk maar karig teen die hoeveelheid voedsel wat hulle ingepak het vir tussen hulle drie. En hulle doen dit in styl hoor. Elkeen het ‘n blou en wit streep bordjie met ‘n bypassende wit servet en blou wynglas waaruit daar baldadig Rhebokskloof witwyn gedrink word.
Toe Armand, Steve se seun, die middag afskop met van sy trefferliedjies, begin roep die blondekop tannie beslis dat hy sy pa moet gaan roep. Haar vriendin links van haar is in ‘n uitspattige pers rok en gil saam met haar “Steve, jou lekker ding,” toe hy uiteindelik sy opwagting maak. Tannie nommer drie met die cherise pienk brabandjies wat skaam-skaam by haar spaghettistrap toppie uitloer is stil. Hoe lekkerder die vertoning raak, hoe vinniger rook sy haar sigaret. Sy skreeu en waag egter nie saam met haar twee vriendinne nie.
Soos al die ander kere stel Steve nie teleur nie. Hy betree die verhoog geklee in ‘n pikswart langmou hemp met ‘n sonbril en keppie. Die gehoor verloor dit natuurlik byna tot Armand afstap en Steve die verhoog opstap. Ek besef vir die soveelste keer dat Suid-Afrika vir Steve liefhet. Hy’s ons stoute seun van musiek en hy is als waarteen mammas hul dogters waarsku, maar ons “love” hom.
My oog vang so half terloops ‘n tannie wat regs van ons staan. Sy dra ‘n lang swart semi-deurskynende rok en sy sing elke liewe liedjie saam met Steve. Die tannie sing met passie en gevoel. Sy maak by tye selfs haar oë so toe van lekkerkry. Voor haar sit ‘n vrou wat baie ure in die son moet spandeer om so okkerneurbruin te kan wees. Sy’t ‘n eina, spierwit rompie aan wat dalk nie heeltemal so lekker by haar ouderdom pas nie.
Iewers gedurende die “show” werk tannie wit rompie se witwyn lekker saam sodat sy met oortollige selfvertroue sit. Toe ek weer sien is sy op die verhoog – besig om haar Stormer “cowboy” hoed op Steve se kop te sit. Met die speelse windjie en kort rompie moes die meeste van die skare waarskynlik tot wie weet waar sien. Selfs Steve kon homself nie keer om ‘n opmerking oor die wit rompie te maak nie.
Sy “show” laat my ver terugdink en verlang. Steve neem my terug na die musiek wat my ouers op Sondae geluister het. Hy laat my “Agter elke man” herleef. Ek ruik weer die kerksaal en hoor die uitbundige Kakamiete tydens sy eerste “show” op Kakamas.
Na aan die einde sing hy en Armand ‘n liedjie saam oor pa en seun. Ek sien die trots in sy oë en kan nie help om na my ma te verlang wat iewers in die hemel sekerlik ook na Steve se Rhebokskloofkonsert sou sit en kyk nie.
Steve laat Stormers regop staan en die Bloubulliedjie uit volle bors saamsing. Hy praat oor plaasmoorde en laat boeromies wat eintlik gekom het oor hul vrouens wou – regop sit en luister.
Hy sluit af met “Pampoen” en hy doen dit op die Steve-manier. Ten spyte van ‘n uitbundige skare, almal met witwynglase omhoog , gaan staan ek eenkant om net die ervaring vir ‘n oomblik vas te vang. Dis so groot dat ek ‘n onverwagse traan vinnig wegvee. “Pampoen” het die lug gesien in my studentejare toe die lewe nog kommerloos was. Ons het nagte omgedans by Kakamas se mas op maat van “Pampoen”. “Pampoen” het nuwe status gegee aan Bloemfontein, my studentedorp. “Pampoen” is dus vol nostalgie.
My Wilma-vriendin kom staan langs my – en ek sien sy’s net so hartseer. Sy onthou ok die nagte van “Pampoen.” En nou is ek oppad Engeland toe vir ‘n lewe daar saam met my man. Ons “Pampoen”-dae is vir goed verby.
Dan is die aandjie verby en Steve nooi almal om iets te laat teken – hy bied aan om op enigiets te teken. EK glimlag, want die tannies voor my begin naarstigtelik soek na iets om op te laat teken.
Steve is goed. Hy’s bitter goed. Selfs Devilliers dink ok so, al sê hy dit nie. Maar ek sien dit in sy oë. Steve kan nie anders as om mens te oorrompel met sy Steve charisma nie!
Comments
Post a Comment