Die Hart van Ceres

Gisteraand brand vlamme hoog en onheilspellend teen die berg soos jy Ceres binnery. Ek kan myself eenvoudig nie keer nie – heeltemal betower én gewalg deur die vlammehel wat rooi en woedend woed hoog teen die berg, besluit ek om laataand deur die pas te ry. Ek ry stadig. Baie stadig. My ruit is oop sodat ek die nag gemeng met vuur eerstehands kan ervaar. Enya sing op die agtergrond.
En  vir die volgende halfuur speel my dag soos ‘n film in my kop af. ..
My gedagtes gaan gooi draai in die Fourie-woning waar tannie Annalie my soos ‘n eie meisiekind met ope arms verwelkom het. Sy ken my skaars – en tog maak sy soggens vir my die lekkerste bakkie opgesnyde vrugte en joghurt wanneer sy dieselfde vir haar drie oogappel seuns voorberei. Sy leer my kreatief kosmaak in die kombuis. Ek proe my eerste pesto in haar kombuis. Ek sien hoe jy in ‘n kits ‘n franse broodjie rooster en verskillende kombinasies daarop sit – en dit na iets eksoties laat lyk. Ek kan nie wag dat ons kosmaak dat ek een voorskoot uit tannie Annalie se voorskootlaai kan kies nie. (Sy het voorskote van elke kleur en patroon!) Ek sien by haar hoe ‘n klein vroutjie ‘n rots kan wees vir haar man en seuns.
Dan ry my gedagtes oor die laagwaterbrug na die Snymans. Erika wat my vir oulaas ‘n lêplekkie in haar huis gee vir laaste kuier voor ek oor die water gaan. Erika wat ‘n nota op die kombuistafel los dat ek myself asb. moet help. Daar’s lasagne en lekker koue wyn in die yskas. En daar’s baie ys. Toe ek vroegoggend van die draf terugkom het Francois reeds vir my ‘n pienk blombeker gereed as ek koffie wil drink saam met Jaco. Erika wat die laaste jaar nr.2 op my “speed dial” is vir ingeval iets in die nag met my gebeur. Erika wat my leer dat ek nie so fluks soos my middelste sussie hoef te wees nie, want alle vrouens is nie huisvrouens nie. Sy is inelkgeval ook nie jou standaard huisvrou nie – en sy voel nie eens skuldig daaroor nie.
My gedagtes loop gooi ‘n Kaapse draai in die pastorie by Pierre en Mona. Mona wat gisteraand met sterre in haar oë vertel dat haar groot eetkamertafel nou smiddae vol kinders sit. Net Huldie en Mias is hulle s’n. Die res is ander mense se kinders. Ander mense se kinders wat hulle soveel vreugde verskaf sommer net omdat hulle daar is. Mona sê dat middagete deesdae haar en Pierre se hoogtepunt van die dag is, omdat dit so lekker is om in die kinders se vreugdes en hartseer te deel.
My gedagtes bokspring na Corieta en Georgie wat soms sommer so onverwags kom draai gooi in my lewe – net ‘n vinnige epos of sms. Of ‘n blitsige “hallo”-stop met ‘n nougat of stokkielekker – net om te sê: “Ons is nog hier en ons gee nog om.”
Ceres is appels en pere en perskes en droë vrugte. Soms is Ceres baie reën en ander kere vlamme. Soms is Ceres sneeu en ander kere is Ceres hoog somer.
Maar die hart van Ceres is sy mense. Omgee-mense. Hartsmense. Liefhê-mense.
Ek maak my gedagtes mooitjies bymekaar voor ek terugry en die laaste rooi gloed in my tru-spieëltjie dophou. In my hart weet ek waarom die Ceres-hoofstuk in my lewe moes wees. Die Here het mense oor my pad gestuur om my te wys van gee en omgee – alles onvoorwaardelik...

Comments

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep