Makkiesplaas Kombuistee
Teen 2-uur was ek verby vodde van moegwees. Ek het in ‘n koue bad water gaan lê met ‘n ekstra sterk cappacino. Op maat van ons heel eerste CD – “Dancing on the tables” het ek my gedagtes probeer orden vir die kombuistee wat wag. Ek het ook sommer gelê en bid dat die Here tog net asb. die kombuistee lekker en spesiaal sal maak vir my sussie, Marietjie. Toe sy stiptelik 4-uur kom instap in haar Adidas seilbroekie en uitgewaste ligblou hempie – stom verbaas oor die rooitafel-kombuistee skouspel in ons eetkamer, was al die moeite en min slaap en baie skoonmaak meer as die moeite werd. My ou sussie was opgewonde verras. En dit was meer as waarvoor ek kon vra! Die laaste twee dae van my lewe was volgemaak met kombuistee beplan en voorbereidings. Huisskoonmaak was nog nooit my forte in die lewe nie, maar ter wille van die kombuistee en my hiper huisskoonbewuste suster, was ek bereid om my hand aan ‘n mop en stoflap en skuurwol te waag. Alles het ek met ekstra oordaad gedoen, want ek wou so g...