My Bloem-sabbatsreis

Ek het ‘n sirkel klaar geloop – en dit voel so goed.
Ongeveer vyf jaar gelede het my grootmenslewe in Bloemfontein begin. Ek was ‘n brandmaer, erg konserwatiewe blondekop plaaskind. My kop was vol drome en my oë het geblink met sterre.
En toe pak ek en my jonger sussie Marietjie en my silwer karretjie, Grietjie, die pad Bloem toe weer aan.  Ons gaan slaap in Helena’s Place – die gastehuis waar my ouers tuisgegaan het met my laaste gradeplegtigheid. Ons kamertjie se naam is “Blydskap,” met ‘n Galasiërs vers op die voordeur. Oom Francois ontvang ons joviaal in sy Galasiërs-gastehuis.

Sommer met die afklimslag in Bloem vra Marietjie mooi vir ‘n draaitjie by MacDonalds. Sy lek al lank haar lippe af vir ‘n Oreo Macflurry. Sondagaand gaan ons Baptistekerk toe waar die blinde dominee steeds uit sy hart preek soos ons hom steeds onthou. Die diens is ekstra spesiaal omdat daar nagmaal gebruik word tydens die spesifieke diens. Terwyl ek daar op die blou Baptistekerk banke sit, besef ek dat ek in daardie einste kerk voorberei is vir die krisisse wat nog in my lewe sou kom. Die blinde dominee in die Langenhoven Baptistekerk was al die tyd ‘n gestuurde wat my siel en kop moes voorberei vir die grootste tragedie wat my sekerlik kon tref.
Ek en Marietjie maak die heel beste van ons Bloemfontein sabbatsreis. Ons gaan doen “window shopping” in Mimosa. Ons stap lang draaie deur die Waterfront en vergaap ons aan al die mooi nuwe goed in dié lekker inkopieplek. Ons drentel etlike ure deur Kloppers waar jy als van ‘n koppiespeld tot ‘n sitkamerbank kan kry.
Ek en my sussie gaan drink lang cappacino’s in Get Together waar ons as arm studente ons laaste sente uitgeskud het vir moerkoffie en natbeskuit. Ons bederf onsself hier met roosterkoek en biltong en kaas. Ons eet dat die plaasbotter eintlik so blink om ons monde sit.
Ons gaan stap ‘n draai op kampus en koop “peach flavoured” ysies by Seven Eleven en gaan eet hierdie taai ysies voor die universiteit se imposante hoofgebou.
Ek en Marietjie gaan fliek. Marietjie raak iewers in die fliek aan die slaap omdat my druk program haar kwansuis heeltemal uitput. Maar ek vererg my nie eens vir haar slapery nie. Ons gaan eet krummelsampioene en lemoensap by Spur – my ma se gunsteling. Ons luister vir ‘n volle drie dae net OFM en ons verslind die Volksblad.

Maar bowenal gaan soek ons hartsmense op. Ons gaan groet ons dierbare koshuismoeder, tannie El. Marietjie gaan slaap oor by haar groot skoolmaatjie en hul kuier ‘n klip uit ‘n bos oor hamburgers en Rose wyn. Ek en ‘n joernalisvriendin gaan drink ‘n tamaai cappacino in ‘n kitch bont koffieplekkie in Westdene.

En dan sluit ek my sabbatsreis af met ‘n oorslaap by tannie Linkie en oom Hendrik op hul Vrystaatplaas waar die gras geil staan na baie reën. Met die afklimslag op hulle werf maak tannie Linkie vir ons kondensmelkkoffie wat ons langs die gronddam drink. Ons praat hartsgoed terwyl voëltjies in die bome gesellig saamkwetter. Later gaan kyk ek na oom Hendrik se skaapboerdery. Ek stap deur tannie Linkie se uitbundige tuin en praat met Jesus sommer oor als in my lewe. Dit moes sekerlik so in die tuin van eden voel.
Na tannie Linkie se heerlike blatjang en mayonaisehoender staan ek bed se kant toe. Tannie Linkie het my bed mooi opgemaak soos altyd. Die beddegoed is nog dieselfde – diep granaatrooi. Dit pas perfek by die antieke hemelbed.
Vroegmôre die volgende oggend gaan groet ek tannie Linkie se eden-tuin. Ek bid dat die Here die Cloetes sal “bless’’ met mooi en goed vir die toekoms. Ek bid dat Hy hulle grondgebied sal vergroot en onheil van hulle sal weerhou. En ek weet Hy sal.
Net voor ons uit Bloem ry vra Marietjie in ‘n smeekstem of ons nie vir oulaas by MacDonalds kan stop nie. Sy’t lus vir ‘n Oreo Macflurry vir ontbyt. Toe maak ons so.
Ons ry weg uit Bloem en ek voel tevrede. Die sirkel is voltooi. Ek het op my spore teruggegaan en ‘n groot stuk van myself herontdek.
Ek’s nou ‘n donkerkop, getroud, paar lagplooitjies onder die oë ryker, en ‘n paar kilogramme swaarder. Maar diep in my hart is ek steeds die plaaskind wat my trotste pappa en mamma in Bloemfontein kom aflaai het, ‘n paar somers gelede. Ek moes teruggaan om weer daai Suné te ontdek.
Sirkels voltooi is nooit sleg nie…nooit nie. My Marietjie-sussie is nie een vir nonsies nie en sy verstaan nie lekker my hele sabatsreis-sirkelstorie nie, maar sy was bereid om saam te stap.

Dankie Tieks.

Comments

  1. hou op om my heeltyd te laat huil! Maar dankie dat jy jou stories met ons deel sune! jou hare lyk mooi! En marietjie is so oulik met die mc D"s

    ReplyDelete

Post a Comment

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep