Makkiesplaas Kombuistee


Teen 2-uur was ek verby vodde van moegwees. Ek het in ‘n koue bad water gaan lê met ‘n ekstra sterk cappacino. Op maat van ons heel eerste CD – “Dancing on the tables” het ek my gedagtes probeer orden vir die kombuistee wat wag. Ek het ook sommer gelê en bid dat die Here tog net asb. die kombuistee lekker en spesiaal sal maak vir my sussie, Marietjie.
Toe sy stiptelik 4-uur kom instap in haar Adidas seilbroekie en uitgewaste ligblou hempie – stom verbaas oor die rooitafel-kombuistee skouspel in ons eetkamer, was al die moeite en min slaap en baie skoonmaak meer as die moeite werd. My ou sussie was opgewonde verras. En dit was meer as waarvoor ek kon vra!
Die laaste twee dae van my lewe was volgemaak met kombuistee beplan en voorbereidings. Huisskoonmaak was nog nooit my forte in die lewe nie, maar ter wille van die kombuistee en my hiper huisskoonbewuste suster, was ek bereid om my hand aan ‘n mop en stoflap en skuurwol te waag. Alles het ek met ekstra oordaad gedoen, want ek wou so graag hê als moes vir Marietjie perfek wees.
My sjokoladesplinter “cupcakes” het genadiglik prentjiemooi uit die oond gekom – sulke vrolike, rissierooi polkadot “cupcakes.”  Ek het geensins minderwaardig gevoel met my koekies teen die liplekker eetgoed van die ander tannies nie.

Die kombuistee tafeldek het ek tot heel laaste gelos. Mens los mos maar altyd die lekkerste vir laaste – of dis hoe ek is. Ek eet al die vleis af en bewaar die murgbeentjies tot heel laaste sodat ek my maal kan afsluit met sagte murg. Of ek eet om die feta in die slaai sodat ek dit laaste kan eet!
Die tafel was bloedrooi met doilies as plekmatjies vir my ma se beste wit bordjies. Op elke bordjie het ‘n wit-en-vlootblou servet gelê en dan was die polkadot “cupcake” op die servet. Van skoon lawwigheid het ek by elke bordjie ‘n wynglas met ‘n bypassende rooi waatlemoen chappie gesit. En ‘n sonneblomgeel strooitjie.

Wat die tafel spesiaal gemaak het was nie die polkadots of doilies of  Vyf Rose blik met tannie Suna se pienk blemmetjies daarin nie. Dit was die mense.
Om die tafel was my ma se baie spesiale vriendinne. Tannies voor wie ons mens geraak het. Tannies wat my ma vertel het van broodbak en zip insit. Tannies wat my ma moed ingepraat het as die Boesmanlandwinde jou in ‘n depressie wil inwaai. Tannies wat steeds haar hartsgeheime ronddra.


Hoe later die middag, hoe lekkerder was Marietjie se partytjie. Ons het sommer later ‘n bottel van my pa se vonkelwyn uit sy drankkabinet gaan grawe vir ‘n bietjie vonkel by die fees.
Met die son se sak het ons gaste huiswaarts begin keer. Nou was daar nie meer ‘n skoon glas of koffiebeker in ons huis oor nie. My moed wou-wou my net begewe oor die absolute chaos van skottelgoed wat nou alweer moes gewas word, toe ek sien dat daar nog taamlik vonkelwyn oor is.
So sluit ek toe my sussie se kombuistee af. Met ‘n groot glas vonkelwyn agter die vol wasbak skottelgoed terwyl Die Broers my ten hemele inspireer met Tien Duisend Myl op die agtergrond.
Toe ek my vonkelwyn en skottelgoed deurgewerk het en elke doilie en glas op sy plek het, gaan soek ek van die oorskiet sjokolade “cupcakes” uit die yskas. Ek soek natuurlik een uit met ekstra baie sjokolade – wat ek toe sommer alleen daar langs die tafel opeet.
En toe is ek oppad bedtoe, want kombuistee hou en beplan kan mens wraggies uitput. Dit weet ek nou! Maar dit was elke bietjie bloedsweet werd. Natuurlik dank ek my sterre vir Wilma wat my so mooi geleer het van kombuistees. Sy’s immers ons land se kombuistee koningin!



Comments

  1. pragtig! Goeie werk! Wens so ek was daar! Voel die plaas roep my kwaai!

    ReplyDelete

Post a Comment

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep