Stofgaargoed
Ek is bietjie soos Nataniël. Ek hou van die minimalistiese “look” met baie ruimtes en oop spasies. Ek verpes kaste met sinlose goetertjies daarop, want daai goetertjies moet afgestof word. Daai goetertjies mors onnodige, kosbare tyd. Buitendien is ek te haastig en lui vir afpak en afstof en terugpak!
Ek smyt maklik weg. Ek versamel wel briefies en dagboeke. Dis immers koestergoed van hartsmense.
Maar my Marietjie-sussie is ‘n obsessiewe versamelaar van enigiets wat kan stof gaar. Ek onthou nog soos gister hoe sy in ons studentedae een dag woedend was omdat ek een van haar leë joghurtbakkies uit pure moedswilligheid platgetrap het. Sy kon die bakkie kwansuis nog gebruik vir verf…En nee, dit was nie die enigste leë bakkie in haar besit nie. Leë plastiek joghurtbakkies het ‘n fenominale spasie in haar piepklein koshuiskamer opgeneem.
Ons is huidiglik besig om ons grootwordhuis te boks en te verdeel tussen ons drie sussies – om plek te maak vir die nuwe tannie in my pa se lewe. Ons is baie lief vir tannie Marinda en doen hierdie opruimwerk graag ter wille van haar en my pa. Maar dit bly ‘n moeilike en minder lekker takie.
Marietjie besig om te sorteer.
Ons het begin by die laaikassie in my ma se kamer. Die boonste laai was die geskenkelaai. Ondertoe was die laaie vol met hekellappies en ander geërfde goed van oorlede tannie Ria. Lappietjies wat my arme ma om sentimentele redes nie kon weggee nie, maar wat sy egter nooit gebruik het nie. Nou moes ons dit verdeel om dit ook te bêre omdat ons ook te sleg voel om dit weg te gee. Die bose kringloop hou dus net aan.
Ek weier egter om ook ‘n opgaarder te word! Ek gaan daai hekellappies op skinkbordlappies vaswerk en dit gebruik. Ek het my ma se lepeltjieversameling uit die houthuisie teen die muur gehaal en ek gaan daardie lepeltjies nou gebruik soos gewone lepeltjies. Ek dink dit gaan regtig “funky” wees. Ek weier om goed weg te pak in kaste en kiste. As ek iets nie daagliks kan gebruik nie, het ek dit ook nie nodig in my lewe nie.
Ons kompliseer ons lewens met opgaargoed. Dit maak spasies vol en gaar stof op. My lewe gaan stofvry wees en klaar.
Marietjie se sienswyse verskil egter radikaal van myne.
Terwyl sy haar kamer boks staan ek totaal gefassineer deur haar versameling opgaargoed. In haar klerekas pryk ‘n prent van ‘n jong en onskuldige Joost. Die prent dateer uit haar laerskooldae toe Joost haar groot held was. Onder Joost is die spierpaleis Gerrit Badenhorst. Die prent is al effe verbleik en geskeur, maar Marietjie kon haarself net nog nooit sover kry om die af te haal nie!
Ek sien hoe sy haar lemmetjiegroen bedkassie begin uitpak…en weer staan ek verstom.
Sy bewaar steeds haar potloodversameling asof dit werklik waardevol is. Druiweboksies vol basaartafel speelgoed staan die onderste deel van haar bedkassie stampvol. En raai wat – terwyl sy haar kamer sorteer, gooi sy dit steeds nie uit nie. Sy pak al daai versamelinkies en druiweboksies sorgvuldig in groter bokse om na haar nuwe huis te vervoer.
Sy kan nie uitgooi nie, verduidelik sy verskonend. Mens weet nooit wanneer jy iets weer sal nodig kry nie.
Ek’s net altyd so bang ek bêre iets wat ek inelkgeval nie weer gaan nodig kry nie…
Ek dink ek is soos tieks! Ek het al my lewe stofvry propeer maak. . . sukkel maar!
ReplyDelete