Vyetyd op Makkiesplaas
Vyetyd het ons die grondpaadjie tuintjie toe puf gestap - ek het die voorvye eerste gewaar, want ek stap die graagste. Die tuintjie is so ongeveer 'n kilometer van ons huis af. Dan sou my pa een namiddag aankondig: "Ons kan vanmiddag gaan vye pluk. Griet, is jy reg vir konfyt kook? Het jy genoeg suiker." (My pa het my ma nooit op haar doopnaam genoem nie. Sy was altyd Griet vir my pa.) My ma was 'n vrou van beplan en voorberei. Daar was altyd genoeg van alles in ons piepklein, oorvol spens. Van suiker, tot blikke vol beskuit en tuisgebakte kleinkoekies, tot ekstra Doom en blikkieskos. Net vir ingeval. Die suiker was dus nooit 'n probleem nie! Dan is ons hele gesinnetjie op my pa se ou blou Toyota bakkie tuintjie toe. (Daai bakkie dateer uit die vroeë tagtigs, en my pa glo steeds dis die beste bakkie wat nog ooit gemaak is. Sy leeftyd is verewig.) Ons meisiekinders moes agterop staan. Ons het altyd van daardie blou Vodacom en geel MTN kêppies gedra wat normaalw