My Blog-bederf

Ek besef dis selfsugtig om te blog. Baie selfsugtig. Tog wil ek myself die luukse van blogging gun so aan die begin van die lentemaand. Ek wil myself bederf met stories vertel wanneer mooi dinge my hart roer. Ek wil sekere hartsgoed uitbasuin...want "blessings" moet immers van geweet wees!

Ek het 'n hartsbegeerte om te vertel van mense soos Oom Ernest en tannie Linda Sondag in die kerk in P.A. Hamlet. Oom Ernest, witgrys fier en regop langs die groot liefde van sy lewe: Tannie Linda. Tannie Linda daarteenoor is nog bloedjonk van gees, maar ongelukkig is sy afhanklik van haar krukke om te kom waar sy wil wees. My oog betrap oom Ernest vir tannie Linda knipoog tydens 'n hoesbui. Die knip is vinnig - maar tannie Linda weet dadelik dis 'n: "Is jy oraait my lief," knipoog. Later beur tannie Linda vasbeslote regop wanneer ons "Heilig, heilig, heilig" sing. Oom Ernest stut haar liefdevol teen die rug.

Hoekom beland vier uit elke vyf Suid-Afrikaans huwelike in die skeihof, vang ek myself wonder. Waarom is daar nie meer 'n Oom Ernest-en tannie Linda-liefde in mans en vroue se harte nie?

Ek wil vertel van die Nina-die-boskind kind in my klas met die wilde hare. Die kind wat vanoggend alweer laat was vir skool en wat dan vir my kom vertel sy's laat oor haar goeie hart. Sy't 'n brandmaer straathondjie raakgeloop oppad skooltoe en toe MOES sy kwansuis eers vir hom 'n "pie" by Spar gaan koop.

Laastens brand 'n skraal ligtekop kind in my hart. 'n Kind wat vertel hoe hulle Vrydae gaan "groceries" koop vir die gesin met R200. Dis al geld wat die pappa weekliks verdien. En hulle kla nie oor die min geld nie. Hulle is maar te bly dat daar geld is om mee kos te koop. "Want met R200 juf. kan mens dam lekker 'mince' en baie eiers en brood koop."

Mag die lente baie stories bring. Mooi stories met 'n lentegeur. Mag die lente ook vir jou mooi dinge inhou.

Blessings

Sune

Comments

  1. Beautiful, hoeveel van ons kla nie daagliks met die witbrood onder die arm nie? Mag hierdie lente vir jou 'n besondere lente wees en mag God jou seën met die mooiste bloeisels van nuwe hoop en vreugde uit Sy hand.

    ReplyDelete

Post a Comment

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep