Braairibbetjie en soet patats

Sommer met die instapslag Vrydagmiddag kan ek ruik: Hier word groot gekook. Groot.

Ek moet verklap dat ek ‘n lui huisvrou is en dat my man genadiglik nooit daaroor kla nie. Ek kry soms ‘n gier en dan sal ek nou resepteboeke blaai vir lekker reseppies…en dan ‘n storm loskook. Soos ek reeds genoem het, is dit normaalweg niks meer as ‘n gier wat vinnig oorwaai nie. ‘n Standaardaandete neem my hoogstens ‘n halfuur en daar’s nooit meer as twee kastrolle of panne vuil nie.

Lekker kookkos eet ons meestal by ma Elize. By haar hoef ek nie eens te probeer kersvashou nie. Haar soetpatats proe die ene heerlike ryk “caramel” en haar selfgemaakte hoenderpastei moes verseker al menigte VLV-pastei kompetisies wen!

Terug by Vrydag. Die reuk van kookkos was dus vir my en my man beide goeie nuus. Ek en Lizanne het egter ook groot naaldwerkplanne gehad. Daar was tannie Marinda se wasgoedsakkie was moes klaar, en Marietjie se vatlappe.

Bernie en Lambrecht het ons gou laat verstaan dat hulle “ander draaie het om te ry.”

Terwyl ek knip en stik het Lizanne elke nou-en-dan ‘n draai in die kombuis gaan maak. Die geure uit die kombuis het net aangenamer geraak hoe nader dit aan etenstyd raak.

Teen 2-uur was ek verby rasend honger. Die mans se “draaitjie” was klaarblyklik baie lekker en hulle was nie te haastig huistoe nie.

Na ‘n oproepie na waar die twee ookal was, was hulle gou by die huis. Lizanne het die tafel intussen gedek soos mens ‘n Sondagtafel dek. My ma het altyd geglo: ‘n Sondagtafel moet ‘n ordentlike tafeldoek, netjiese servette en servetringe op hê. Lezanne se tafel kon dus kwalifiseer as ‘n Sondagtafel.

En toe kom die kos. Boontjies met kapokaartappels, rys met so lekker lang bruinsousie waarop so dun vetlagie dryf, soet patats en bros gebraaide ribbetjie.  Soms moet ek myself knyp net om seker te maak ek’s wakker. Vrydag was so. Hier sit ons vier Vrydagmiddag in Engeland met ‘n bord boerekos voor ons. As ek my oë vir so bietjie toemaak kon ek my verbeel dis Sondagmiddag op Makkiesplaas. Die kos kom uit ons houtstoof en iewers op die agtergrond hoor jy die skape in die veld en die hoenders in die hoenderhok.

Die lewe is aanmekaargesit uit hemelse oomblikke. Op die einde van die dag is dit hierdie hemelse oomblikke wat saakmaak. Dis hierdie hemelse oomblikke wat jou weer op ‘n Maandagmôre laat opstaan en die week met ‘n hup aan jou stap aanpak.

Hemelse oomblikke is die dryfveer van ons bestaan…en dis genadegeskenke uit God se hand. Hoe “great” is die Here nie? Hy sorg selfs as jy plaastoe verlang na jou ma se kos uit die houtstoof.

Dan seën Hy jou met vriende wat ken van soetpatats en brosgebraaide ribbetjie…

Comments

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep