Melkboksies en papbakkies

Anneen het al dikwels gekla oor haar man se vreemde gewoontes. Omdat Anneen ‘n oudste kind is, en oudstes maar die gewoonte het soms ‘n  bietjie aan te dik, het ek haar stories met ‘n knippie sout geneem.

 Nou weet ek sy het niks aangedik nie.

 Sowat twee weke gelede gaan kuier ek by hulle in hul pragwoonstel in “The Heart”. Dis in die hartjie van Walton-on-thames en dis regtig prentjiemooi. Uit die aard van die saak werk my niggie bedags en moes ons saans ons kuiers kuier. Manlief Jurgens is ‘n dokter, wat toe daardie spesifieke week nagskof werk. Ek en Jurgens kry toe bedags kans om bietjie te kuier. En so kry ek ook toe die eerste keer kans om bietjie Jurgens se “ander kant” te leer ken.

 Iewers deur die week gaan stap ek ‘n verken-stappie deur Walton-on-Thames en met my terugkomslag by die huis kry ek Jurgens op die bank, rekenaar op die skoot en boks sap langs hom. Ek wou nog wonder hoe hy die sap gedrink kry uit die groot sapboks sonder ‘n glas. Dit neem nie lank voor hy my wys hoe mens dit doen nie…Hy laat sapdrink uit ‘n groot sapboks, heel maklik lyk. Ek vermoed egter dat dit tannie Emsie se hare sal laat rys.

 Na my stappie is ek ook dors en besluit om vir my ‘n koffietjie te maak. Terwyl die ketel kook kies ek vir my die mooiste prentjiebeker uit hul versameling. Toe ek wil melk ingooi is die melkboks wat in die yskasdeur staan, dolleeg. Ek vra Jurgens daarna en hy antwoord heel onskuldig, “Moes seker maar ek wees.” Dan gaan hy aan op die rekenaar. Hy laat dit alledaags en normaal klink om leë melkboksies in die yskas terug te sit. Hy laat my amper simpel voel dat ek so onsinnige vraag kon vra!

 Ek loer dieper die yskas in, opsoek na ‘n nuwe boksie melk. Dan word ek vir ‘n derde keer binne ‘n uur, heeltemal stom van verbasing gelaat. Binne die yskas staan drie leë papbakkies, met die “glad wrap” netjies daaroor getrek. “En diè”, vra ek heeltemal uit my beurt en effe hard – voor ek myself kon keer. “Ok seker maar ek,” antwoord Jurgens weer.

 “Jinne Jurgens,” probeer ek hom nou laat skuldig voel met twee enkele woordjies. Ek kan sien my verwytende stem affekteer hom glad nie. “Gelukkig is dit my huis, en hier kan ek dit maar doen.”

 Vreemd genoeg sit die wasbak en die asdrom net rugdraai en een tree ver. Tè ver vir Jurgens inelkgeval.

 Met Anneen se tuiskoms vertel ek haar die storie. “Nee wat jong, ek het al als probeer. Net voor jy gekom het, het ek vir twee weke notatjies/herinneringe in die hele kombuis opgeplak. Dit was om hom te herinner om leë goed weg te gooi, om weggooigoed nie in die wasbak weg te gooi nie en om net soms te help om die skottelgoedwasser uit te pak.”

 “Ek moet seker maar daarin berus dat my man nooit super netjies in die kombuis sal wees nie. Jurgens het ‘n ander goeie kwaliteite…dalk moet ek eerder verby die leë melkboksies probeer kyk en daarop fokus.”

        NS. Jurgens het toestemming gegee vir die storie.

Comments

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep