Ons gaan kuier Sondag na kerk by Marcel en Eska. Ek’s in beheer van die poeding vir die Sondagmaal.
Ek pluk dus eergisteraand my ma se resepteboek en skoonma se wenresepte uit vir idees. Al die poeding-praatjies veroorsaak dat Lambrecht later langs my kom sit en saamblaai. Ek sien hoe hy lank en verlangend kyk na die aanloklike malvapoeding in Wenresepte.
"Wat dink jy moet ek Sondag maak?,” vra ek nuuskierig.
“Ek is al só lus vir ‘n Jan Ellis poeding. En vir ‘n malvapoeding. Wanneer maak jy weer kaaskoek? Kan jy melkkos maak? My ouma het altyd so lekker melkkos gemaak,” kom daar sommer ‘n klomp inligting in een asem uit.
Ek moet my liewe man, wat klaarblyklik nou al vir ‘n hele rukkie lank heimlik met ‘n groot nagereg-lus loop, teleurstel. My kaaskoek resep is iewers in ‘n boks weggepak en geberg in Georgie-hulle se “garage” in Hamlet (Ek sweer by daardie resep en is huiwerig om enigiets anders op die proef te stel!). Wat die melkkos betref - ek het al een maal vantevore my hand gewaag aan melkkos. Melkkos verg vaardigheid en ondervinding. Daarvan het my eerste poging getuig (Die gebrek aan vaardigheid en ondervinding!) My melkkos gaan dus waarskynlik niks soos sy ouma se lekker melkkos proe of lyk nie. Inteendeel, dit gaan ‘n vreeslike antiklimaks wees
Ek besluit ten einde om my man te verras met die een ding wat ek wel kan doen: Die Heerlike poeding uit my ma se resepteboekie wat soortgelyk is aan ‘n malvapoeding.
Na werk gaan koop ek dus vinnig gou suiker en eiers by die klein supermarkie op die hoek voordat ek huiswaarts keer.
Ek ontdek ‘n Klipwerf CD langs die CD-speler wat ek sommer dadelik opsit – net om ‘n lekker atmosfeer in die kombuis te skep. Dan ruk ek ons enigste plastiek mengbak en rissierooi kastrolletjie uit vir die sousie.
Op maat van “Boesmanland, vat my hand” en “Lekker ou Jan, ” bak ek sommer ‘n netjiese bakpoedinkie vir my man.
Terwyl die poeding in die oond is, gaan sit ek eers vir ‘n oomblik in ons breë vensterbank om die oomblik te ervaar. Die oond maak die kombuisie knus. Die hele vertrek ruik na bakpoeding. Klipwerf klink na huis.
Toe die bakpoeding warm uit die oond kom, gooi ek die suikerstroop sousie oor. Ek wag eers ‘n rukkie voordat ek myself help aan ‘n klein bakkie poeding. Dit proe na winter in die Boesmanland. Dit proe na ‘n ma se omgee-liefde. Dit proe soos gelukkig wees.
My man was vir die dag gou Spanje toe vir besigheid. Ek weet dus dat hy eers iewers gedurende die oggendure ons huisie sal binnesluip. Ek los die kombuislig aan na ek die skottelgoed klaar gewas het. Dan sit ek die poeding op die tafel, met ‘n klein wit poedingbakkie en lepel langsaan. Net voor ek gaan slaap gaan sit ek ook ‘n briefie langs my man se bakpoeding.
Ek’s bly jy’s veilig terug. Hier’s ‘n bakpoeding – spesiaal vir jou. Skep vir jou ‘n bakkie en kom eet dit langs my in die bed.Ek’s baie lief vir jou.
Vanoggend vertel hy my dat hy ongeveer 2-uur vanoggend by die huis gekom het. En hy het eers poeding langs my in die bed kom eet. Ek het geslaap, maar dit was nogsteeds diep lekker.
Comments
Post a Comment