Verewig is so finaal
Ons tassies staan al die afgelope twee weke gepak. Hare is ‘n wit blommetjie doekesak wat ons by Lyndi gekry het. Myne is ‘n blou blommetjie een wat ek nog in Stamford se “high street” in Engeland gekoop het. Haar kamer is prentjiemooi – soos ek nog altyd daarvan gedroom het. Nou wag ons, ons eersteling se koms met senuwees, gemeng met opgewondenheid en afwagting af. Saans wil die slaap nie lekker kom nie. Of ons word in die middel van die nag wakker en die slaap bly weg. Laasnag word ek om middernag wakker met Lambrecht se hand op my maag: “Engel, is jy oraait? Amé skop verskriklik.” Ek is oraait, net soms totaal oorweldig deur die gedagte van die nuwe hoofstuk wat wag. Micha, my een skoonsuster sê dis nie ‘n nuwe hoofstuk nie. Dis ‘n nuwe boek. Micha en Van Heerden se jongste is agt weke oud. Nina en Luca is die mooiste iets wat met hulle kon gebeur, vertel hulle dikwels. Petra laat weet uit die Kalahari dat hul weekoue Deniel haar iets nuuts van liefde geleer het. “Dis ‘n l