Oor oorvloed


Die woordjie “oorvloed” is ‘n ontsagtelike mooi woord. Dis soos vars heuning op jou tong en bring ‘n warmte in jou binneste. Ek lees vanoggend Joh.10:10 wat sê: Ek het gekom dat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed. Die woord bly tintel op my tong.

 Oorvloed laat my dink aan my pa se melkkoffie wat hy elke oggend gemaak het terwyl ons daar kuier. Volroommelk met moerkoffie in so gróót beker.  Ek en my pa het daai koffie soggens alleen langs die tafel sit en drink. Dan het ek sommer uitgevra oor die bure, oor die skaap, oor my laatlam sussie op Potch. Dit was goed.

 Oorvloed laat dink my aan Marietjie se middagete tafel verlede Dinsdag. Daar was die heerlikste wildspastei. Saam met dit was bruinrys, Liamé se ongelooflike lemoenpatats, ingelegde beet en goudkleurige bakaartappels. Oorvloed. Ons het gesellig gekuier om haar Dinsdagmiddagete oorvloed. Dit was goed.

 Oorvloed laat my dink aan ons stop oppad terug net buite Garies. Ongeveer so 50km van Bitterfontein af. Ons moes stop om Amé se doek om te ruil. Wat ‘n bedekte seën. Die veld se reuk was orals, hemels. Ek wou nie weer ry nie. Lambrecht het sommer daar langs die motor vir ons gebid. Ek het onverklaarbaar tranerig geraak. Watter heilige oomblik was dit nie daar in Bitterfontein se wêreld se lekkerruik veld nie. Dit was goed.

 Oorvloed laat my dink aan ons meisiekind se vroegoggend gebabbel deesdae. Dit het in die Boesmanland begin. So rondom vier-uur in die oggend raak sy wakker vir haar voeding. En daarna wil sy om die dood nie weer slaap nie. Dan sit sy op haar pa se maag en “gesels” kopstukke. As hy in babataal terug gesels, word hy beloon met die mooiste babadogtertjie glimlaggies. Dis oorvloedig goed.

 Oorvloed laat my dink aan kuier saam met vriende die naweek. Pizza en rooiwyn saam met die Lindes in Wellington, en baie lag. Agterna die kaggel en chai-tee vir poeding. Ook Georgie en Vincent se kuier Sondag, was oorvloedig. My pragtige pienk rose wat hulle saamgebring het, herinner my aan hul oorvloedige kuier. Dit was goed.

 Oorvloed is as jy Sondagnamiddag saam met jou man en kind ‘n draaitjie kan gaan stap en nabetragting hou oor die naweek. Jy wéét dis oorvloed as die son se laaste lig pienkerig agter die Paarl berg uitskyn, jy jou babatjie hoor babbeltaal saampraat met die voëltjies se gesels, jou man na jou kyk met oë wat sê: Jy is vir my so pragtig.

 Oorvloed is as jy op ‘n Maandagoggend kan opstaan by jou selfoonwekker wat jou wakker maak. Jy kan opwip uit jou bed, blakend gesond, met die vooruitsig van ‘n besige dag wat wag. Jy kan oats gaan maak op jou stoof en jy het volroommelk, heuning en kaneel om oor daai pap te gooi. Jy kan jou TV aansit en kyk wat in die wêreld aangaan terwyl jy die pap maak. Jy kan die pap eet in jou knus, warm huisie en daarna ‘n warm stort neem voor jy in jou motor klim oppad werktoe. Oppad kan jy radio luister en die oggendmooi deur jou voorruit geniet.

 Dis oorvloed. Ons lewens is vól oorvloed. Dalk die baie oorvloed wat maak dat ons soms net die tekorte raaksien…

Comments

  1. Ag Suné, jou woorde vat my altyd ver weg...! Ek is dankbaar vir jou en vir die oorvloed in my lewe ook! x

    ReplyDelete

Post a Comment

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep