Die Here begin berei jou menswees voor op Ma-wees sodra
daardie eierselletjie in jou baarmoeder begin ontwikkel. Jy staan nie een
oggend op en besluit om jou soos ‘n mamma te begin gedra nie. Dit gebeur net.
Ek besef dit vanoggend terwyl ek half 10 in die oggend, met ongekamde hare en
ongeborselde tande, op die bed lê en Amé aan die slaap probeer maak. Sy moet
vanoggend haar oggendslapie neem. Anders gaan sy ‘n mislikke baba wees as haar
maatjies arriveer vir haar eerste speel afspraak vanmiddag. Op haar ses maande
viering.
Sy slaap rustig totdat ek my arm versigtig probeer
uitwriemel vir opstaan. Dan raak die lyfie weer onrustig. Ons kind voel veilig
en rustig by my. Dis hoe ek altyd by my ma gevoel het, onthou ek. Ek sou enige
plek saam met my ma gaan. Dit het altyd veilig gevoel.
Ek onthou ewe skielik ons Kakamashuisie in 1994. Dit was die
jaar waarin Marietjie skooltoe is en knap na Marli se geboorte. Oom Gert
Loubser was begrafnisondernemer van die dorp en het aangebied dat ons in een van
sy huise op sy plaas intrek. Dit was op daardie stadium stoorkamer vir sy
voorraad doodskiste, maar hy sou die plek ontruim. Dan kon ons net skoonmaak en
intrek.
Gelukkig is ons nie bygelowige mense nie!
My ma het die eerste ses maande van Marietjie se Sub.A-jaar
in daardie huisie by ons in die dorp gebly. Willie was ook in Sub.A en het by
ons loseer. Dit was seker een van my lekkerste jare ooit. Die hele huisie was
rou sementvloer. Die geiser in die badkamer het oop gesit bo die bad. Ek onthou
hoe bang ek altyd was dat die ding eendag op ons koppe sal van terwyl ons bad.
Namiddae het ons in die kanaal agter die huis gespeel. Die kanaal was feitelik
droog en ‘n heerlike speelplek. Of ons het bal gespeel op die rosyntjiebaan
langs ons huis. Maandagaande het ons The
Nanny gekyk en ek kan onthou dat ons dikwels hot dogs geëet het vir middagete.
Kakamas is ‘n warm plek. En die huisie het net een
waterverkoeler gehad. Dus het ons almal so in die een kamer geslaap. Soms het
die waterverkoeler iewers in die nag vasgevries, en dan moes jy vasbyt deur die
hitte. Sulke tyd slaap jy maar met ‘n nat waslappie op jou voorkop.
Waarby ek eintlik wou uitkom is die feit dat die huis op ‘n
erf buite Kakamas was. Daar was diefwering aan die vensters, maar met geen
moeite sou jy in daardie huisie kon inbreek. My ma was ongewapen en daar was
nie ‘n alarm nie. Ek is seker my ma moes soms bang wees. Maar ons was nooit
bang nie. Nooit nie. DIt was altyd veilig saam met my ma in daardie kamer.
Toe Amé met haar diepblou ogies (Wat op ‘n druppel na Ouma
Annemarie sin lyk) na my kyk sien ek dit daarin.
Sy’s veilig. Maak nie saak waar ons is nie.
Comments
Post a Comment