Die groot trek begin...
Vanmiddag stiptelik om 3-uur dra my man my oor die drumpel van ons eerste eie huis. Ons beseël die ritueel met ‘n uitbundige soen. Ons Amé-kind is self die ene opgewondenheid. Sy waggel die huis vol op haar wankelrige beentjies. Ek gaan hurk by haar in haar leë kamer, “Dis jou nuwe kamer poppeliefie,” verduidelik ek aan ons een-jarige. Ek vermoed sy verstaan, want sy gee ‘n vrolike gilletjie voordat sy na die venster waggel om haar uitsig te gaan bekyk. In my kop sien ek al tannie Alba se vlaggies in die dag hang. Haar kamer gaan dogtertjie pienk wees. Soos dit hoort. Sy sal ‘n klein boekrakkie hê waarin ons al haar gunsteling boekies en nuwe bybeltjie sal pak. In die leefvertrek gooi ons, ons nuwe mat voor die kaggel. Ons dink nou albei kaggelvuur en rooiwyn, dink ek by myself. Tannie Elaine se verleidelike granate hang ek eerste teen ons leë mure. Dit bring sommer plotseling warmte. Voordat ons die motors begin aflaai, vat ons eers hande vir saambid. Vir dankie sê en vra...