10 dae manloos...
My man vertrek vir 10 dae Ooste toe vir werk. Hy los my met
Amé, Daniël en Klara by die huis. Vir 10 dae. Tien lang dae.
Ek besef eers na 10 lange dae alleen hoe ongelooflik baie my
man in en om die huis help. Klara se landmyne is baie. Ek moet dit noodgedwonge
optel, anders doen Amé dit met haar sandgrafie. Ek moet die tuin natlei. Ek
moet die vullis uitsit. Ek moet saans huis sluit en alarm onthou. Ek moet die
kinders bad. Ek moet vir hulle bybelstories lees en in die bed sit. Ek moet
snags ‘n duisend maal opstaan vir Daniël.
Alleen.
Teen Vrydagaand trek ons by 6 dae. Die kinders kom vir ‘n
tweede aand in ‘n ry nie tot ruste nie. Teen 21:00 is ek emosioneel van
radeloosheid. Ek besluit om hulle eenvoudig in die kamer te los. Daniël in sy
camping cot en Amé op haar matrassie in ons kamer. Ek gooi vir my ‘n glas wyn
en plons voor die tv neer. Soos ‘n slegte ma. (Na hierdie 10 dae het ek meer
medelye met ma’s wat onverantwoordelike dinge aanvang!)
Dit gaan aanvanklik goed. Die doodse stilte verklap dat hulle
besig is met iets….dan begin huil Daniël 10minute later hartstogtelik. Toe ek
in die kamer kom, is Amé by hom in sy bedjie. Stilpyn met spuit in die hand.
Dit was ‘n vol bottel op die bedkassie. Ek gee dit vervaard ‘n skud.
Leeg.
Daniël en sy bedjie is die ene taai rooi Stilpyn. Orals sit
die rooi letsels. Amé wys trots dat sy gou vir boetie “syne” gegee het. Sy het
self ook ‘n slukkie geneem, vertel sy gesellig en trots. My keel trek toe. Ek
bel my Yolande-buurvrou histeries. Ek hanteer nie krisisse goed nie. Sy is
gelukkig gefokus. Sal sy haar pediater bel? Hoeveel dink ek het Amé en Daniël
ingekry?
Ek besluit om net ‘n asemskep te wag en te kyk.
Uur later is my kinders steeds topspoed. Hulle het beslis te
min van die medisyne ingekry, besluit ek vies. Skuins na 10 wen ek die oorlog.
Ons slaap met die reuk van Stilpyn wat soos ‘n walm oor die kamer hang.
Daar gebeur intussen nog ‘n paar honderd goed voor ons kom
waar ons vanaand is. Genadiglik arriveer my liewe liewe man môre. Ek sal hom
vertel dat ons verskriklik na hom verlang het. Ek sal hom trots vertel dat ons
elke dag vir Klara vir ‘n klein stappie geneem het. Ek het van alleenheid my
eerste Engelse boek in maande klaar gelees. Ek sal hom vertel dat Daniël die
boekrak intussen ontdek het en dit elke dag afsmyt. En die hoogtepunt…Amé se
eerste poef in ‘n toilet. Nogal Wimpy se toilet.
Deur die Here se genade is hierdie 10 dae verby. Met klem op
genade. En daarom wil ek vanaand vir enkelouers sê – ek salueer julle!
Die Coetzees sal môre skuins na sonsopkoms in die pad val
lughawe toe. My Lambrecht-man arriveer 09:25. Ons wil sekermaak ons is meer as
betyds…
Comments
Post a Comment