Sjokolade en die liefde


Woensdagaand gaan kyk en manlief na die fliek, Chocolate, onder Wellington se sterrehemel. Die buitelug fliekaand word aangebied deur die Breytonbach-teater op die dorp. Tuinmeubels en kersliggies is die enigste dekor. Pizza en wyn is op die spyskaart. Die atmosfeer is lig en romanties.

Halfpad deur die fliek moet ons stywer sit en ons piekniekkombersie oor ons gooi. Die Bolandlug raak herfs. Ek kyk die fliek vir die soveeelste keer, maar dis manlief se eerste. Juliette Binoche vertolk die hoofrol en laat sjokolade amper na iets heiligs lyk. Haar kliënte verbruik haar sjokolade bietjies-vir-bietjies, met agting,  maar elke proe laat jou eie mond kwyl.

Ek en manlief vertrek net na 22:00, met ‘n yslike lus na sjokolde. Ons stop oppad huistoe by Engen se Terbodore vir goeie warm sjokolade. Manlief beduie ek moet hom asseblief nie nou stop nie. Hy koop Amarula sjokolade, donker sjokolade kitkat en Lindt-balletjies. Ons giggel en proe soos in ons verliefdae die amper twee kilometer huistoe. Donker sjokolade sit ‘n kinderlike ring om ons lippe toe ons, ons voordeur oopsluit.

Ons onthou skielik so met sjokolade in die kies hoekom ons getroud is. Ons onthou dat ons eintlik baie pret saam het. Ons onthou dat ons vreeslik graag saamlag. Ons onthou baie goed wat ons al amper heeltemal vergeet het.

En toe gaan haal ons, ons twee slapende kinderlyfies by Yolande en Ryno. Dit het baie moed gekos om vir ons baie spesiale bure so ‘n groot guns te vra. Hulle het ons egter nie vir ‘n sekonde laat voel dat hulle ons ‘n guns doen nie. Ons harte is hulle ewig dankbaar.

Ons gees voel weer lig en verlief na ‘n aand uit onder Wellington se sterre, met sjokolade en bubbly en baie lag. Elke getroude paartjie met klein kinders, kan sowaar af-en-toe baat by so aandlange wegbreuk!

"Nine out of ten people like chocolate. The tenth person always lies." -Pinterest-

 

Comments

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep