Ouerskap is 'n wille rit!


Ek neem vanoggend 'n lang skuimbad in my sussie se groot hoekbad, met 'n masker aan, terwyl ek Die Burger se bylaag lees. Ek doen dit in doodse stilte. Marli is steeds in Thailand, en as sy nie hierdie lees nie, hoef sy nooit eens te weet dat ek hier was nie.

Ek sit my grimering tydsaam aan voor haar groot spieël terwyl ek liedjies neurie in my kop. Toe maak ek koffie in haar grootste koffiebeker met die blou "FAITH" daarop. Ek drink die koffie slukkie-vir-slukkie terwyl ek Die Burger aandagtig lees.

Ek het die oggend af. Ek het verlof ingesit by die hoof van ons huis. Hierdie ma het tyd met haarself nodig.

Verlede week stuur my Anneen-niggie 'n stemboodskap aan. Hul lieflike eersteling, Elsje, is maar 'n skrale twee wekies oud. Anneen se stem klink lewensmoeg. Julle kon my beter gewaarsku het - begin haar stem ietwat verwytend. En net daarna sê sy dat sy versot is op hul nuwe pop, dis net baie anders as wat jy jouself ooit kan voorstel.

Ek weet Anneen.

Ouerskap is nie grappies nie. Dis die lekkerste lekker wat partydae die ergste erg kan wees. Manlief was ses dae uithuisig. Ek moet hom die eer gee, hy is 'n verskriklike handige en betrokke pappa. Ses dae sonder hom het elke druppel energie uit my wese getap. Een aand tydens sy afwesigheid raas ek kwaai met Amé dat sy nou asseblief moet bedtoe gaan. Mamma kan nie meer nie. Mamma wil net 'n uur voor die TV sit sonder enige kinders in sig. Sy kyk my so verwytend aan en sê dan in al haar wysheid: "Mamma, ek is nou glad nie trots op jou nie."

As ek moeg genoeg raak, is ek ook nie meer trots op myself nie. Dan is ek die tipe mamma wat ek regtig nie wil wees nie. As jy 'n nuwe mamma is, en jy dink jy is 'n slegte mamma as jy daardie punt bereik, wil ek jou verseker. Dis oraait. Ons kom almal daar.

Ek kuier onlangs met my WIlma-vriendin. Hulle klein Maritz is nou amper een jaartjie. Hy is 'n ratse mannetjie wat skrik vir niks. Die tande keil hom deesdae op. Hulle het andernag skuins voor vier maar 'n draai met hom gaan ry. Dis al hoe mens hom soms tot slaap kry. Nou waarheen ry mens daaityd oggend in Piketberg, wil ek weet. Ag, hulle het maar so heen-en-weer in die strate gery tot hy slaap.

Die vreugdes van ouerskap...

Ek lees vanoggend van Maria. Hoe vreemd dit moet klink, maar Jesus was haar kind. Sy het hom ook nege maande onder haar hart gedra. Sy moes kyk hoe hy aan 'n kruis vasgekap raak. Dis ondenkbaar. Ek was drie weke gelede emosioneel omdat Amé moes tandarts toe gaan. Ek was so bang sy moet 'n inspuiting kry as hul dalk 'n tandjie moet stop. My vrese was onnodig. Maar steeds.

Ek dink aan Lambrecht se niggie Sumien-hulle wat die pad moet stap met hul poplap se kanker...en hospitale, dik naalde, baie, baie seer...

Ek wou eintlik so met my laaste slukkies koffie 'n paar gedagtes op papier pen vir moedelose mammas, en nou loop draai my gedagtes ver. Na 'n skuimbad en oggendkoerant, alleen, voel ek alreeds weer soos 'n mens. O ja, en alleen op die toilet wees. Dis mos ook 'n luukse as jou kindertjies nog klein is. Amé bars ook een oggend by die deur in terwyl ek wou ontsnap na die toilet. Amé, los asseblief net vir mamma 'n klein bietjie alleen, smeekvra ek. Sy lyk geskok. "Mamma, wie gaan met jou gesels?" wil sy bekommerd weet. Toe kom sit sy langs my op Isla se mooi pienk potjie en gesels 'n hond-uit-'n bos.

Ek wil klaarmaak. Ouerskap is soos die Kobra by Ratanga Junction. Dis 'n wille rit. Die een oomblik is die wind in jou hare. Die volgende oomblik is jy onderstebo en naar.


Desondanks - ek prys die Here vir die lewendige, energieke, opgewonde en gesonde kinderlyfies in ons huis. En vir die heel beste co-pilot. Pappa Lampies.

Comments

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep