Kamp Staaldraad met die Coetzee-kindertjies

Woensdagaand bel my man van die Namibiese grens af. Hy vermoed hy gaan dalk nie sein hê tot Sondag nie. Ek voel hoe ek benoud raak. Lambrecht is dikwels van die huis af, maar hy het altyd selfoon sein. Selfs uit Amerika en China kon ons altyd iewers gedurende die dag of nag met mekaar gesels. Ons het altyd “nag” en “môre” gesê alhoewel ons dagtye verskil.

Nou was dit ek en Amé en Daniël, op ons eie, tot Sondag.

In hierdie halwe week leer Daniël “poef” sê en hy doen dit ook as hy voel dis sulke tyd – ongeag waar ons, ons bevind. Hy spreek sy nuwe woordjie hard en duidelik uit vir die hele wye wêreld om te hoor. Ons kinders is wonderlik, maar in hierdie halwe week verinneweer hulle, hulle ma.
Hulle baklei oor alles. Sussie wil wolf-wolf speel en boetie is die wolf. Hy wil nie wolf wees nie. Of sy wil huis-huis speel, maar hy wil nie die baba wees nie, of polisie-polisie, maar hy wil nie in die tronk geprop word deur sy suster nie.

Hulle spring trampolien en sussie spring te rof en hoog. Hulle speel huis-huis in hul “buite” kombuis en rol mekaar amper oor hul een klein plastiek Pep Stores “wasbakkie.” Sussie wil haar pap uit haar bekertjie eet, boetie wil dit ook doen. Daar is vier poppe, maar albei wil met dieselfde pop speel. Uit twintig karretjies wil hulle met dieselfde een speel, en uit ‘n boekrak vol boeke, dieselfde boek lees.

Toe hulle Sondagoggend sowaar nog met dieselfde tandeborsel ook wil borsel, terwyl ek op die toilet sit met my ipad opsoek na interessante kunsprojekkies vir kindertjies, “snap” hierdie mamma. In my beste gil-huilstem demonstreer ek vir hulle hoe hulle tekere gaan. Albei staan verstom en begin lag toe uit hul mae. Die kinderlaggies por my aan om dit weer te doen en ek háál uit vir ‘n tweede keer. Terug in die kombuis sien ek die voordeur was oop. Op ‘n Sondagoggend 9-uur is Wellington doodstil…

Toe weet ek, mense aan die anderkant van Wellington kon my sekerlik hoor. Die buurman was by sy voordeur toe ek ons sin toemaak. Aan die glimlag op sy gesig het ek eenvoudig gewéét…

Toe manlief uiteindelik bel oppad terug, het ek net gehuil, totaal oorstelp van vreugde om my anderhelfte se stem te hoor. Verfris deur sy stem, durf ons kerk nog vir oulaas alleen aan Sondagoggend. My kinders is uit hul nate om by die kerk te wees. Kyk, ons is almal mal oor Sondagoggend kerk. In hul uitbundigheid beseer Daniël iemand amper met die vlaggie wat hy soos ‘n swaard tydens aanval rond swaai. Toe ek die vlaggie konfiskeer skree hy dat almal vir ons kyk. Hy huil letterlik dat die trane uit sy oë spuit.

Toe manlief Sondagaand arriveer is ek oormoeg, ooremosioneel en ooreet. As die lewe my druk is grondboontjiebotter mos my beste vriend!

Hoe kry ek dit reg om op ‘n Maandagoggend met ‘n Wimpykoffie te sit en stories timmer? My liewe buurvrou – Yolande. Haar whatsapp kom vanoggend soos ‘n stukkie manna uit die hemel, of ‘n teelepel grondboontjiebotter as jy besig is om bodem te slaan -  sy en die kindertjies en Johanita ons gedeelde feetjie is almal vandag net tuis. Sy dring daarop aan dat ek myself moet neem vir ‘n koffie afspraak. Ek is opgewonde soos ‘n koshuiskind voor die vakansie oor die aanbod.


Ek vermoed my buurvrou het my dalk ook gisteroggend gehoor…

Ns. Dis Dinsdagoggend. Die naweek se chaos voel lank terug. Hierdie huismamma se hart is vanoggend weer dolgelukkig en tevrede. Pappa Lampies en die kindertjies Coetzee is almal by die huis. Mamma kon alweer twee fantastiese vroegoggend drafsessies inwerk, en pappa kon die kinders in die bed sit met mooi bybelstories. Soos dit hoort.

Comments

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep