Droogte in die Boesmanland

Ek wil begin met: Ek is n Boesmanlander. Dit sal nooit verander nie. Ek het dit vanoggend besef.
Johnnie en Madeleen laat weet onverwags hulle is in Wellington. Hulle wil n vinnige invalletjie doen, soos die Boesmanlanders maar maak. Ek kan my geluk nie glo nie. Hulle kom val in vir n vinnige koffie en koeldrank, en ons praat natuurlik dadelik van hul weggaan. Oom Johnnie en tannie Lottie was maar alle jare op Soutdwaggas. En toe trou klein Johnnie met die mooie Madeleen en begin saam met haar n lewe op sy erfgrond. Die drie klein Vissertjies met hulle pragtige oë vervolmaak die prentjie.

Maar nou pak hulle op vir n nuwe lewe op n plaas klipgooi van De Aar. Die droogte in die Boesmanland wurg hulle dood. Die Here se tydsberekening is perfek. Hierdie geleentheid het op so n spesiale manier op hul weg gekom, en die Here het hulle harte al lankal begin voorberei.

Hulle vat hulle honde, kat en perde saam. Dis dit. Hulle het die bure laat weet hulle kan van die plantjies uit die tuin kom haal as daar iets is wat hulle wil hê. Hulle sluit af op Soutdwaggas. Op daardie oomblik maak die gedagte my so hartseer dat ek dit nie eens kan wegsteek nie (Genadiglik was dit n sagte hartseer en nie n klipharde snikhuil nie!). Hoeveel male het ons, ons siele op Soutdwaggas gaan lawe na my ma se dood? Hoeveel van Madeleen se wonderlike skuinskoeke het ons van daardie werf af weggery? Hoeveel bybelstudies in hul sitkamer het lewens aangeraak en verander.

Ek weet nie. Baie.

So saam met die hartseer weet ek my hart is ook seer vir die Boesmanlanders wat nie uitkomkans het nie. Soos my pa. Die droogte maak jou oud en moeg en teneergedruk. Ek probeer vergeet hoe n honger skaap lyk. As jy dit net een maal in jou lewe gesien het, vergeet jy dit nooit weer nie. Daar is nie baie mense wat weet hoe dit lyk as n trop skape byna n bakkie bestorm omdat hulle weet daar is voer daarop nie. Dit grens aan aardig.

Ek wil vandag my hoed afhaal vir elke boer. Vir n oomblik vanoggend het dit gevoel asof my gees saam met julle so verskriklik hartseer is. Mag die Here sy hemelse sluise oopmaak in 2017. Mag dit groen raak waar julle lammers loop. Mag 2017 n jubeljaar raak.

Johnnie en Madeleen, en mag jul nuwe lewe deurdrenk wees met God se goeie guns.


Comments

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep