Botter en room
Saterdagaand kuier ons by Anton en Jean-Maré
aan huis. Jeandré en Lyndi is saam met ons genooide gaste. Tussen ons drie
paartjies is daar ‘n volle vyf seuns en een prinses.
Kos en wyn en koffie is belangrik vir Anton en Jean-Maré.
Hulle bedink die spyskaart en kies dan noukeurig wyn wat by die spyskaart pas.
Jean-Maré
hou van beproef. Na die nagereg is die koffiemaak altyd ‘n proses, want hul
rooster hul bone self. Hulle kombineer verskillende bone. Hulle eksperimenteer
en speel tot hul by die perfekte koppie koffie uitkom.
Gisteraand bied ek aan om nagereg te bring. Dis ‘n meringue
met soet room (Jean-Maré het die room geklop met net so twee knippies strooisuiker
– daar is ‘n verskriklike mooi naam daarvoor, wat ek nie nou kan onthou of spel
nie!), met aarbeie en pistachios op die room. Dan het ek sommer glitter oor die hele ontploffing
gestrooi om bling na die poeding te
bring.
Die mans eet hul nagereg vinnig en doelgerig. Hulle wil
klaar eet om op die bank te gaan ontspan. Ons eet stadig. Dis immers die eerste
keer die aand wat ons op ons eie, sonder kind of kraai kan kuier. Later gaan
haal Jean-Maré die bak waarin sy die room geklits het. Daar is nog so ‘n
bietjie room oor. Ons skep ‘n tweede keer en gooi ekstra soet room oor ons
meringue. Dis nou ‘n bietjie meringue met baie room.
Absoluut verruklik.
Jean-Maré vertel van ‘n fliek waarin die een
vrou so met blokke en blokke botter kon kook. Hoe meer botter, hoe lekkerder die kos. Wat sou die lewe tog sonder
botter en room wees, wonder ons terwyl ons eintlik kreun van lekkerte met elke
hap soet room-meringue nagereg.
Ek vertrou myself nie met botter nie. Ek eet ryskoekies
agter die botter aan. Dan plak ek die botter onbetaamlik dik op die ryskoekie.
My tandemerke moet wys. My ma het dit ook so gedoen. Gister vra Amé
of sy haar dogtertjievinger in die botter kan druk. Sy wil net so klein
lekseltjie proe.
Ek stuur dus die botterliefde nog ‘n generasie aan.
Ek het grootgeword in ‘n huis waar ons vir baie jare room
self gekarring het tot botter. O die trots as jy vir die eerste keer room kon
karring tot botter. Ek is vandag so spyt dat ek nie destyds daardie egte
plaasbotter met meer respek geniet het nie. My pa het elke oggend met sy
melkemmer ingekom. Vars plaasmelk, vol vet, hemels.
Dalk is dit waar my room en botter liefde ontstaan het. Op
Makkiesplaas se werf. Baie seisoene gelede. En dit leef voort.
Comments
Post a Comment