Nabetragting oor 2017
My lewe was aan die einde van hierdie jaar buite beheer – of
so het dit gevoel. Daar moes te veel dinge op een slag gebeur, en daar was
eenvoudig te min tyd. Dalk voel almal so in Desember. Ek het te veel gekla oor
dinge waaroor ek nie wéér wil kla nie. Ek het te veel geëet van goed wat nie goed is vir
my lyf nie. Ek het myself te veel
vergelyk met ander se perfekte facebook lewens.
Ek het te min gelees. Ek het te min gebid. Ek het te min op
die stoep gesit en luister na ons kinders se geselsies en sommer net
gedagdroom. Ek het heeltemal te min gelag dat die trane loop.
Toe ek twee weke gelede op Makkiesplaas arriveer, was ek
soos iemand wat se ruite toe gewasem is. Jy weet mos hoe moeilik dit is om op
‘n wintersoggend deur jou ruit te sien as dit gewasem het. Die wêreld
is ‘n onsigbare raaisel. Ek was dáár, absoluut vuisvoos gelewe aan 2017.
Dis twee weke later en die uitsig deur my ruit is prentjie
mooi. Ek sien weer. Ek het intussen ‘n paar oggende afgeskop met melkkoffie op
Makkiesplaas se stoep saam met my pa en tannie Marinda. Ons het skaamteloos die
voëltjies
se gesprekke afgeluister. Ek het gin en tonic saam met my man op Khamkiri se
dek gedrink en die mooi van die magtige Oranjerivier ingedrink. Ek het twee
boeke klaar gelees en die laaste twee maande se Huisgenote saam met Marietjie
op hul plaasstoep deurgeblaai. Ek het ‘n klipkoppie op Korannerkolk
geklim. Ek het meer as een keer gaan
tert eet by tannie Tertia. Ek het malvablommetjies uit tannie Marinda se tuin
op my ma se graf gesit.
Ek het baie gebid. En ek het só baie gelag.
Ek het elke liewe jaar vyf nuwejaarsvoornemens op my lysie
voor in my dagboek. Ek blaai elke jaar hierdie tyd terug na daardie lysie en
weeg myself. Ek word jaar-vir-jaar te lig bevind.
Toe ek onlangs by my ouma in Upington se ouetehuis se
siekeboeg gaan kuier, het ek net weer besef: Ek sit die pot mis. Die dinge
waarna ons jaag en waaroor ons, ons kwel, het in die groter prentjie geen punt
of plek. As jy hulpeloos in ‘n hospitaalbed lê, aangewese op ander om jou te
help oorleef, is familie en herinneringe al wat jy oor het. My ouma is 85 en sy
onthou die klein goedjies. Hoe my pa as klein seuntjie siek was en dan net
gemmerkoekies en melk wou eet. My pa is nou 58 jaar oud. Sy onthou die poeding
wat sy vir Kersfees vir haar kindertjies gemaak het. Die klein dingetjies.
My nuwejaarsvoornemens vir 2018 gaan anders lyk hierdie jaar:
1.
Drink 8 glase water elke dag en haal diep asem.
2.
Lees, lees, lees
3. Lag
elke dag genoeg. Soek iets om voor te lag as daar niks is nie. As daar absoluut
niks is nie; Kyk ‘n ou Orkney Snork nie
of Friends.
4.
Maak tyd om regtig na ander se stories te
luister, hul harte te hóór. Begin by jou man en kinders. (Sosiale media tel nie.
Mens hoor net iemand se hart as jy in sy oë kyk.)
5.
As God nie die middelpunt is van my bestaan nie,
sal die boonste vier ook nie moontlik wees nie. God is die begin en die einde.
Lééf
dit.
Mag 2018 ‘n anderster jaar wees vir ons elkeen – baie reën,
en geen wasem. Mag daar genoeg swaarkry wees om karakter te bou, en genoeg
wysheid om die regte keuses te maak. Mag ons nie ‘n kans laat glip om te lag en
ander te inspireer nie. Mag ons genoeg bid, genoeg water drink en genoeg niks
doen op die stoep.
As jy nie vergeet wil word sodra jy
dood is nie, moet jy of dinge skryf wat die moeite werd is om te lees, of dinge
doen wat die moeite werd is om oor te skryf.
– Benjamin Franklin
-
Comments
Post a Comment