Stoepdans 2018
Ons besluit op die laaste nippertjie om ‘n dag langer op
Millerton te bly as beplan. Mens mis nie graag uit op ‘n Millerton stoepdans
nie. Saterdagnamiddag skuins voor 6 arriveer die eerste gaste. Almal is in hul
netjiese nuwejaarsklere vir die stoepdans en bring-en-braai op Stan en Marietjie se
plaaswerf. Die bure het sommer saam besluit om die jaar so af te sluit. My
Marietjie-sus se lyf is ook al ‘n ongemaklike 30 weke ver swanger en sy verkies
om eerder by haar huis te partytjie as elders.
Almal bring hul eie vleis en drankies. Dit lyk aansienlik
anders wanneer vleisprodusente bring-en-braai as by ons in die dorp. Hulle tel
nie tjoppies per kop nie. Hulle pak ‘n braaipan taamlik vol. Vleis is daar
altyd in absolute oordaad.
Sarien en Jaco bied aan om die brood vir die aand te
behartig. Sarien klim af met twee van daardie groot, ronde tupperware bakke wat
mens kry – vol deeg. Om die kersie op die koek te sit het sy tuisgemaakte
botter vir die roosterkoek. Botter wat sy self gemaak het van hul eie koeie se
room.
My pa neem homself plegtig voor dat hy nog daardie
Saterdagaand vir oulaas sal brood eet asof dit die volgende dag die oordeelsdag
is, en dan moet hy ernstig plan maak met sy gewig. Sy het baie simpatie met my
pa met die gewig storie, simpatiseer Theresa met my pa. Sy kon laas net na haar
troue in ‘n nr. 32 denim pas. Al wat sy deesdae met dié kan doen is sy kan hom raam.
Want aantrek sal sy hom vet weet nooit weer kan aantrek nie. My pa raak so
opgewonde oor sy nuwe bondgenoot.
Roosterkoek in die een hand wil my pa weet of
hulle twee nie ‘n whatsapp groepie kan begin om mekaar te motiveer nie. Slim
plan, stem Theresa in. Hulle kan dit sommer die “Dik en ongeskik” groepie doop.
Mens moet eers bewys dat jy oorgewig is voor jy mag aansluit. My pa eet sy
roosterkoek met nuwe optimisme. Ek kan sien hy’t hoop vir die “Dik en ongeskik”
groep vir 2018.
Ek eet roosterkoek tot ek ook later dik en ongeskik voel. Ek
sny die botter in skywe soos kaas en plak dit dan saam met van Marietjie se
appelkooskonfyt op die brood. Dit proe lekkerder as baie ander verskriklike
lekker goed wat ek al in my lewe geëet het. (Sarien is so gaaf om selfs van
daardie ongelooflike roosterkoekdeeg vir ons see toe te stuur!!!)
Dit word ‘n aand van lekker dans, heerlik eet en baie lag.
Steyn en Rebekka kom so byna nie na die dans toe nie, want Steyn se keel is
seer en hy voel goor. Teen die einde van die aand voel Steyn soveel beter dat
Rebekka hom met moeite kry om huistoe te gaan. Klein H.E (4 maande) is lank voor sy pappa gereed vir sy eie bed!
Ons praat nie oor die misdaadsyfer of ekonomie nie. Ons raak
nie te filosofies of te ernstig nie. Ons geniet net die voorreg van lewe. Dis
‘n perfekte aand. Die sterre is so mooi soos dit net in die Boesmanland kan
wees. Dis nie te warm of te koud nie. Dit raak vir my een van God se laaste spesiale geskenke in die oujaar.
Terwyl ons koffie maak en truffles op ‘n
bordjie pak (Tannie Keppies se truffle resep) vertel een vrou hoe siek sy geraak het van ‘n poeding wat sy ook
een keer vir so ‘n saamkuier moes maak. Dit was ‘n nuwe resep wat sy uitprobeer
het en dit was die ene roomkaas en room en kondensmelk. Terwyl sy die poeding
maak lek sy lepels af en proe hier en daar. Teen die tyd dat die poeding uit
die oond kom is sy so geil geproe dat sy die aand moes tuisbly – totaal siek geëet
aan die poeding se bestanddele. Haar man moes toe maar alleen gaan kuier met
die poeding.
Marietjie se uitnodiging het gesê jy moet die stof van die
oujaar kom af dans sodat daar plek is vir die nuwejaar se nat grondjies. Mag
2018 baie nat grondjies oplewer. Mag ons God se goeie guns naby ons lyf voel en dankbaar leef. En mag ons genoeg tyd maak vir roosterkoek
braai en poeding eet saam met goeie vriende.
Comments
Post a Comment