Spog storie


Kleine George maak Donderdag sy opwagting en die Millers hou hul asems op. Dis immers die eerste boetiebaba in hulle familie. Anmari en Andréa tel ook die slapies na hul boetie se koms.

Ek praat gisteraand met my kleinste sussie wat tans die grootste is. Nee, haar lyf voel nou nie meer lekker nie. Daar lê al die laaste twee dae knippies op haar badkamer vloer wat sy net nie kan bykom nie. Dis ‘n taak en ‘n half om iets op die vloer by te kom oor haar maag.

Sy was maar besig hierdie twee weke wat verby is. Sy het vier baksels koekies gebak en mooi in glasflesse verpak om vir mense te gee as dankie geskenkies. Dit was egter smiddae so warm dat sy maar voor die waterverkoeler op hul bed gesit het om die koekies op mekaar te plak. Dit was die koelste plek in hul Boesmanland huis. Ek wonder hardop waarom sy nie maar sjokolade kon koop met ‘n mooi lint om, soos normale mense maak nie. My flukse hoogswanger sus lag my opmerking af.

O ja, en dan het sy nog vir haar dogtertjies elkeen ‘n seuntjie lappop gemaak as geskenk. Die sal boetie George nou oorhandig met hul eerste besoek aan hom. Alles wat mens kan gaarmaak is ook reeds gaar in haar vrieskas. Sy voel sielkundig gereed vir die nuwe avontuur.









Ek het ‘n gejaagdheid in my om my Marietjie-sus se storie te verwoord. Terwyl ons kinders in hul pajamas kom vra of hulle gou kan fietsry, gryp ek die kans aan. Mens kan altyd hul voete met “wipes” weer afvee. Ek maak ‘n koppie soet tee vir die geleentheid. Marietjie moet haar eie storie lees voor George arriveer. Daarna kry mens nie tyd vir slaap, tandeborsel of dink nie, wat nog te sê lees!

Mammas het altyd die behoefte om met hul kinders te spog. Elke mamma het ‘n bondeltjie hartsvriendinne by wie sy weet sy maar mag spog. Of soms is dit net daardie een vriendin wat verstaan dat jou hart nou wil bars van trots en dat jy net die oomblik moet deel. Aangesien my ma uitmis op die geleentheid om met Marietjie te spog, voel ek dis my plig.

Ek wil spog met jou Rietjies. Jy skrik vir geen taak nie. Daar is geen einde aan jou energie. Ek weet jy gaan ‘n wonderlike mamma wees. Kleinsus Marli, ek is nie minder trots op jou nie. Ek weet net ek en jy gaan beslis nie bak en naaldwerk doen op die 38 week swanger merk nie. Ons sal die tyd definitief eerder benut vir bene hoog lê en baie lees. En ons kaarte met ‘n glimlag “swipe” vir dankie sê geskenke!



Comments

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep