Oor oordeel en balletskoene
Dis Woensdagmiddag 13:00 en ek en die kindertjies is
doodmoeg en honger na die skooldag. Ek neem ‘n waaghalsige besluit om net
VINNIG by ‘n winkel in te glip oppad huistoe. Die kinders klim alreeds te
stadig uit die motor na my sin. Daniël weier om uit te klim as hy nie eers
sy Crazy Store sonbril kan opsit nie. Amé wil opsluit mèt haar balletklere aan winkel
toe gaan. Ons drie is ‘n koddige prentjie, kan ek myself nou indink. Ek voor
met my diep frons, dan ons ballerinatjie en dan haar boetie wat soos iets uit
die mafia lyk.
Ek jaag hulle heelpad winkel toe soos skapies aan. In die
winkel is hul lysie langer as myne. Ek handel die inkopies binne ‘n oogwink af.
Nou moet ons drie terug suiker motor toe. Albei kinders met
‘n sappie in die een hand en ‘n kasie in die ander. Nou wil Daniël
ook nie meer sy bril dra nie, want hy kan nie lekker sien wat hy eet of drink
nie. Amé
se balletskoene pla haar en ons moet dit eers uittrek. Daar op die sypaadjie.
Ek gebruik my heel laaste geduld en energie om op my hurke te sak en die
balletskoene uit te trek. “Ag fffflip Amé,” sis ek deur my tande terwyl ek die
skoene uittrek. Toe ek opkyk is dit vas in die oë van twee studente. Die een
met die baie tattoos en lang poniestert gee my ‘n kyk wat lyk na – Jy is regtig
nie ‘n goeie ma nie. Ek vererg my plotseling vir die mannetjie. Hy is
waarskynlik Jaco of Pieter of Chris en min jare gelede het sy ma hom ook heel
moontlik al 13:00 op ‘n Woensdagmiddag iets toegesis deur haar tande.
Ek wil eers so grasieus moontlik opstaan en sê,
“Ek dink liefs nie ons twee moet mekaar so lelik oordeel nie,” of “Het dit nou
sleg geklink? Ek is eintlik vrek lief vir my kinders. As jy eendag jou eie het
sal jy heeltemal verstaan.”
Ek doen niks daarvan nie. Ek stap met ‘n reguit rug met my
ballerina en mafiabaas agter my aan terug na my motor. Oppad huistoe sing ons
drie saam met Jan de Wet. Ons lê lepel voor die lugversorger en vat ‘n
lieflike middagslapie. Namiddag eet ons saam roomys op die stoep.
Selfs goeie mammas wat vrek lief is vir hul kinders pluk
soms balletskoene hardhandig op ‘n sypaadjie uit. Moenie waag om ons te oordeel
nie. Wat jy nie nou verstaan nie Koos of Jan of Fanie, sal jy wel eendag
verstaan.
Comments
Post a Comment