HOOR
My pa-hulle kom vir ‘n vinnige drie aande se oorslaap by die
see. Hy spog dat hy vir drie dae elke dag die nuutste koerant kon lees en ‘n
draairoomys kon eet. My pa kon rus van droogte en skaap voer en bekommernis. Ek
is so dankbaar daarvoor. Robert het wel gebel en vir Sam verkla – die wou
blykbaar nooit inval nie en het sy drie dae omgeslaap. Sy “vakansie” op die
plaas was selfs rustiger as my pa sin! Gert was vir die naweek op Pofadder en
het iewers Saterdagnag uit Pofadder gebel met ‘n geld nood.
Iewers gedurende my pa-hul se drie dag in die Kaap (vir my
familie strek die Boesmanland vanaf Wellington tot by Gordonsbaai en die
Waterfront) het hulle gaan fliek by Somersetmall. Hy het die “car guard” mooi
beduie dat hy asseblief die bakkie baie mooi moet oppas. Toe het hy sommer ook
besluit om ‘n foto van die man, homself en die bakkie te neem, net vir ingeval
die bakkie gesteel word. Indien jy gewonder het, dis nie ‘n nuwe bakkie nie.
Inteendeel, my pa se dorpsbakkie het al menigte skete en kwale, maar die
afgelope paar jare was daar net nooit die finansies vir ‘n nuwe bakkie nie. As
my pa eers die som maak van hoeveel sakke voer jy met ‘n bakkie se geld kan
koop, kan jy maar vergeet.
Terug by die “car guard”...Yvonne is al die pad van die
Kongo. Hy belowe my pa “No one touch that bakkie,” en hy hou sy woord. Toe my
pa-hulle heelwat later uit die mall stap, is my pa se bakkie een van die
laastes voor die mall. Yvonne verduidelik dat hy eintlik al moes gaan, maar hy
het maar bly wag vir hulle. Hy gee sy nommer vir my pa en vra dat my pa
asseblief die foto vir hom moet stuur. My pa maak dit vir Yvonne die moeite
werd en gee hom ‘n goeie fooitjie vir sy pligsgetrouheid.
Toe ek jonger was, was dit vir my die moeilikste deel van my
pa. Hy kon onverwags ‘n uurlange gesprek aanknoop met ‘n vreemdeling. Ek lees
Zuma sê
daar is nie ‘n woord vir stres in Zulu nie. Ek het altyd geglo daar is nie ‘n
woord vir haastig in my pa se woordeskat nie. My ma was die teenoorgestelde. Ek
onthou die motiveringsboekies met bybelversies in haar kant van die bakkie se
deur. Met ouderdom kom wysheid. Toe sy jonger was het sy oorlog gemaak oor my
pa se tydloosheid. Later jare het sy op haar lip gebyt en sit en bybelversies
lees. Van ons drie sussies kon ek nie meer soos my ma wees nie.
Tannie Marinda is soos my pa. Hulle staan gedurig stil om te
luister en uit te vra. Pappa, tannie Marinda en Nasya kom eet ‘n vinnige middagete voordat
hulle huiswaarts keer. Die drietjies is al voet in die stiebeuel toe Amé
vir ouma smeek om nog een laaste legkaart saam met haar te bou. Ouma sak rustig
op haar hurke en bou met die wêreld se geduld nog ‘n laaste legkaart.
Daar is soveel hartseer en seer en alleen daarbuite. Die
heelal is honger na rustige mense wat ‘n oomblik wil stilstaan om, om te gee en
te luister. My skoonsuster, Soretha, sê anderdag dat dit vir haar
skrikwekkend is hoe selfgesentreerd ons samelewing is. Alles gaan oor die ek,
ek, ek. Dis die dryfkrag agter facebook – ek en my sogenaamde perfekte lewe.
Ons stal dit in winkelvensters vir mekaar uit.
My pa en Yvonne se storie daag my uit – stop ek ooit nog om
te hóór.
Daardie aand by die huis stuur my pa die foto vir Yvonne.
Yvonne stuur ‘n mooi boodskap terug:
Hello my friend!
I think u are well back at ur place with all ur family? I wish all of u
wonderful evening.
Dalk, net miskien, is dit die eerste keer in ‘n baie lang
tyd dat iemand vir Yvonne sy naam gevra het. Of waarvandaan hy is...
Comments
Post a Comment