Kennakoffie en winkelkoekies
Onlangs kom ek toevallig af op ‘n onderhoud met ‘n baie
welgestelde vrou. Ten spyte van al haar aardse besittings sê
sy so mooi: “My heel kosbaarste besittings kan almal asemhaal.”
Hierdie is so spesiaal - ek dra my kosbaarste besittings om my nek! |
Vrydagnamiddag (Nou al ‘n maand gelede!) wil ek by ons
kindertjies weet wat ek saam met hulle kan doen wat nou vir hulle baie lekker
sal wees. Ek noem ‘n paar opsies ... maar niks klink vir ons twee lyfies so
aanloklik soos piekniek op die dam nie. Ons stap dikwels in iemand-se-wingerd
net hier agter ons kompleks. Daardie iemand-se-wingerd het ook ‘n lieflike
iemand-se-dam. Dis net daar waar ons ‘n piekniekplek vind Vrydagmiddag. Ons
neem net ‘n koffiefles met koffie en soet winkelkoekies saam vir ons
uitstappie. Die Coetzeetjies is in die wolke. Kallie ons hond ook. Ons sit op
daardie dam en lag en eet koekies en drink koffie sonder enige sorge. Vir ‘n
klein tydjie maak suiker en kafeïene niks saak nie. Die tyd staan vir
‘n oomblik stil. Dis so mooi dat die gevoel nog vir lank daarna lekker in my
binneste voel.
Ek dink dis die smaak van dankbaarheid.
Ons ry die vakansie ver draaie. Oppad huistoe vra ons, ons
kindertjies wat die lekkerste deel van hul vakansie was. Daniël
antwoord sonder om ‘n oomblik te huiwer dat motorfiets ry saam met oupa die lekkerste
was. Amé
dink lank en diep. Dan antwoord sy – “Mamma, Lena se soetkoffie was die
lekkerste van die vakansie.” Sy haal die wind heeltemal uit ons seile. Lena en
Piet is die Tswana paartjie wat al vir baie jare by Marietjie en Stan op die
plaas werk. Lena is lief vir Marietjie-hulle se kinders soos wat mens oor jou
eie kinders voel. Die kinders gaan eet alte graag pap by Lena, of drink koffie.
En van ALLES die vakansie was dit vir ons blou-oog Amé-kind die lekkerste. Iewers in
my mamma-hart dink ek...dankie Here dat die klein dingetjies my kinders se
harte bly maak.
Na die vakansie klim ons by ons huis af. Die rose blom alte
lieflik. My hart is dankbaar dat Arno en Karli (vorige eienaars) die mooiste
rose in hul voortuin geplant het. Ons gesin put soveel vreugde uit die rose.
Ek lees die mooiste boek oor dankbaarheid. Vanmiddag sit ek
by Daniël
op die bank terwyl hy slaap. My wasbak staan vol skottelgoed en die wasgoed wat
opgevou moet word is ook ‘n berg. Nietemin, ek maak koffie en ek sit en lees. Elke
keer wanneer ek die boek neersit is dit asof my stowwerige lens waardeur ek die
wêreld
bekyk net weer blink gevryf word. Ek wil dankbaar lééf. Ek wil kinders grootmaak
wat ook so wil leef. Ons speel elke oggend oppad skooltoe ‘n speletjie –
waarvoor is jy vandag dankbaar? Sommige dae is mens se oemf bietjie minder,
maar ek kan voel hoe die atmosfeer verander as ons net eers kon praat waaroor
ons dankbaar is.\
Thankfulness always
precedes the miracle.
Mag jou paaie iewers hierdie week kruis met stilte of soet
koffie of ‘n mooi roos – en mag jy dan die wonderlike smaak van dankbaarheid
proe.
Comments
Post a Comment