Tien jaar
Vandag is dit tien jaar. Tien jaar het vinnig én
stadig verbygegaan. Ek wil deur die dag glip sonder om te onthou. En ek wil
deur die dag gaan en almal stop en vertel. Net vir ingeval hulle vergeet het,
of dalk nooit geweet het nie.
My ma is vandag tien jaar al dood.
Ek ontdek die boekie waarin mense op die dag van haar
begrafnis boodskappe geskryf het. Die trane loop sommer net. Sonder dat ek
huil. Ons dogtertjiekind wil weet of mamma huil of traan. Dis asof sy die
verskil ken. Mamma huil nie, mamma traan sommer net op hierdie dag tien jaar
later.
My ma se “aanneemkoshuiskind” uit Namibië
destyds het sy boodskap begin met (Ek weet hy sal my vergewe dat ek aanhaal) –
“Tannie Annamarie het altyd tonne liefde gehad. Ek wil amper
net dit skryf want dit was genoeg vir my.”
Soms is ek so bang die herinneringe na my ma glip
jaar-vir-jaar weg totdat daar niks oorbly nie. Maar hierdie enkele sin som so
mooi op wie my ma was. Ek onthou van ons laaste stappies op die grondpad tussen
die groen doringbome so helder. My ma het so gelag dat ons vir ‘n rukkie moes
stilstaan totdat die ergste van die lagbui oor was. Ek onthou die blou aartjies
op haar hande. Ek onthou die reuk van haar parfuum – wat so kenmerkend van haar
was. Ek raak nou nog hartseer wanneer ek dit ruik. Ek onthou die manier waarop
sy haar hande room gesmeer het terwyl sy saans in die bed sit en bid. Ek onthou
haar harde nies en haar lekker lag. En natuurlik onthou ek die manier waarop sy
ons altyd op die stoep ingewag het na ‘n week by die koshuis of ‘n kwartaal by
die universiteit. Sy het haar hande altyd so geklap en uitgelate gelag –
jippieeee.
Tien jaar later – en ek dink ek mis dit sommer net vandag
weer so om die woord te sê (Want dis die een woord wat jy net vir een mens op aarde sê) ....
“Mamma.”
Sjoe Sune, lees nou eers jou updated stories, sit met trane in my oe. Nou wat ek self 'n mamma is, besef ek self hoe kosbaar die woord Mamma is. Liefde Lindi
ReplyDelete