Bederfbokse in die droogte


Ek kan nie onthou hoe oud ek was nie. Dalk Sub.A of B. Ons was in Kakamas vir die naweek. My ma het sommer so op die bed met ons sit en gesels. Skielik was sy ernstig. Dis droog op die plaas en ons moet my pa mooi probeer help. As ons winkel toe gaan moet ons nie onnodige goed koop nie. Ons weet mos een van die dae reën dit weer en dan is alles weer beter.

Ek sal dit nooit vergeet nie.

In my grootraak jare op Makkiesplaas was daar baie droogtes. Dit voel vandag of ons maar altyd aan’t bid was vir reën.  Die reën was egter altyd betyds. Die watertenk agter by ons kombuis was nooit droog leeg nie, dan kom die volgende reën. Die veld rondom die begraafplaas was nooit morsdood nie. Na die geringste reëntjie het die langbeen boesmangras gewillig begin lewe kry.

Net wanneer jy regtig benoud wou begin raak, was die uitkoms daar.

Hierdie keer is anders. Eintlik wil ek nie aan Makkiesplaas dink nie. Ek wil my kop soos ‘n volstruis in die sand druk en vergeet. Ek wil nie meer saam ry veldtoe wanneer ons by my pa-hulle kuier nie. Dis aardig om te sien hoe skape op ‘n bakkie afstorm vir voer. Dit breek my hart om te sien hoe vinnig hulle die voer verslind. Mens sal nooit weet hoe versadig hulle regtig is na so ‘n maaltyd waar almal storm en vreet nie. Tannie Marinda se hanslammers raak by die dag meer. Die mammas kan net nie omsien na hulle kindertjies nie.

Die veld om die begraafplaas is vandag net ‘n stofvlakte. Mens kan net vertrou dat God deur sy wonderlike genade nog grassade bewaar diep onder die stowwerige, droë aarde.

Toe ek my pa onlangs sien het hy te vinnig ouer geword. Ek kan sien sy kop is nie by my toe ek praat nie. Sy kop is by die droogte. Die derde boorgat is besig om leeg te trek. Mens kan honger skape nog op ‘n manier voer, maar as daar nie water is nie...

Eintlik wil ek dit glad nie hoor nie. Want wat sê mens vir jou pa?

My Marietjie-sussie vertel dat hulle Pofadder Boerevereniging onlangs ‘n Boerevereniging vergadering gehad het. Tydens hierdie vergaderings kry die vroue darem ook kans om ‘n bietjie te kuier. Een tannie vertel hoe hartseer sy raak as sy so van Pofadder af na hul plaas ry. Sy vee sommer die trane af as sy so alleen oppad is. Maar as sy hul plaaswerf binnery vee sy haar trane af en sy sit haar glimlag op. Sy moet nou haar man se hande hoog hou. Sy durf nie swartgallig raak nie.

Hierdie droogte is iets ánders as wat enigiemand nog ooit ervaar het. Marietjie vertel die mooiste stories van die bederf bokse. Een tannie kry ‘n sonhoed in haar pakkie – iets wat sy al so lank broodnodig het, maar te sleg voel om haar man voor te vra. ‘n Ander vrou met sulke lekker welige krulhare kry ‘n bottel conditioner vir frizzy hare in haar pakkie. Sy het dit so lanklaas vir haarself gekoop en haar hare smag al ‘n geruime tyd na conditioner, maar dis ‘n luukse wat sy haarself net nie gun nie!

Ek moet byvoeg – die getuienisse wat my pa en tannie Marinda ook oor hierdie droogte kan vertel is genoeg om ‘n boek oor te skryf. En as hulle begin vertel loop albei se trane uit suiwer dankbaarheid. 

Ek raak so skaam as ek op Millerton of Makkiesplaas kom. Ons dink ons trek taai – dan moet ons ophou uiteet en ons DSTV pakket heeltemal kanselleer. Saterdagaand steek ons nog ‘n vuurtjie aan op ons dek, en terwyl ons die son sien sak oor die groen Bolandberge drink ons wyn en praat politiek, Springbokke en weer.

As jy in die Boesmanland is staan jy in die droogte op en jy gaan slaap weer in die droogte. Die skaapkraal vol skaap wat gevoer word vir weglaai is klipgooi van die huis af. Daar’s geen wegkomkans nie. Die reuk van stof en mis raak jou bondgenoot.

Ten spyte daarvan kuier ons anderdag so lekker op Millerton by Marietjie en Stan. Hulle vertrou die Here die groot reëns is om die draai. God is ‘n goeie God. Hy weet van hulle. ‘n Pa vergeet nooit van sy kinders nie. Marietjie pak haar bederfboksie uit Ceres uit terwyl ons daar is – en sy is dankbaar vir iemand anders ver van hul Millertonplaas wat soveel omgee en saam bid. Dis bokse van hoop.

Dit verander iewers in die land ‘n boervrou se lewe.

Terwyl die mans ‘n vleisie braai sê Stan: “Julle moet mooi kyk hoe die ou wêreld nou lyk. Dis die laaste keer dat julle die Boesmanland so gaan sien.”

En ons glo regtig so.


Comments

  1. Ja Sune, Die droogte is baie erg, ergste in 36 jaar wat ek van weet. Dit verniel n mens, maar ek glo die ons Vader se uitkoms is naby!

    ReplyDelete
  2. Hallo Sune, soo lekker om jou blog te lees. ek doen nie facebook , maar kom vanoggend daarop af. wens ons kan koffie drink op die stoep en l die uitgestelde vertel op datum bring ! maar gepraat van die boksies : almal in bloem is ook in rep en roer om hul boksies gereed te kry vir aflewering.ek weet hoe bly ek is as Hendrim JellyTotrs en n magazine of koerant van die stad af bring, want ek gl dis geldmors.{behalwe n garden & Home of Tuis nou en dan. RSG hou my in elk geval op hoogte van alles .hule se m,os dis die arm man se universteit.

    Skryf jy nog al die tyd blogs ? Vertel net hoeveel kidies later, ens , ens.
    Gan goed met ons maar ook droog hier. het laatreens gehad wat ons deurtrek.
    My nr is 0824913322. W up my met n foto of 2 !
    Liefdegroete
    Tannie Linkie [ Bloemfontein]

    ReplyDelete

Post a Comment

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Skuinskoekstorie en resep

die Melktert