Die skouspelagtige eindstryd
Ons kan byna nie glo dit het toe regtig weer vir ons gebeur
nie. Gister koop ons die Rapport en knip elke liewe rugby artikel uit vir ons
Adriaan-kind se bababoek. Hierdie gebeurtenis was immers in die jaar van sy
geboorte. Soos manlief tereg sê – ons mag Saterdag nooit vergeet nie.
Ons sal dalk nooit in ons lewens weer só ‘n eindstryd sien nie.
Ons goeie vriend Jaco kyk die wedstryd sedert Saterdag
steeds daagliks ‘n paar keer. Hy het dit ook al in verskeie tale gekyk. Dit
klink blykbaar elke keer anders en mens is elke keer van voor af uit jou nate
bly oor die soete oorwinning.
Oor Saterdag sal ons nog lank praat. Dit was niks minder as
skouspelagtig nie. Deesdae is albei my sussies in Pofadder omgewing. Laatlam is
die Septembervakansie met die liefde van haar lewe getroud en woon nou net
sowat 30km vanaf middelsus. Albei vertel gisteraand van hulle Wêreldbeker
ervaring. Jongste-hulle het by haar skoonouers gaan rugby kyk. Sy sê
dit het soos die laaste avondmaal gelyk. Die koffietafel het gesug. Sy voel nou
nog versadig van al die lekker “rugby snacks.” Middelsus-hulle het dit alleen
gekyk by hul huis. Hulle het nie die hele Wêreldbeker gevolg nie, en
daarom het haar kindertjies nie die hele storie so lekker verstaan nie. Hulle
het net so af-en-toe kom inloer om te hoor wie voorloop...die bokke of die
engele. Haar kinders het om een of ander rede verstaan dat die bokke teen die
engele speel, in plaas van die Engelse!
Ons huis was ‘n storie van sy eie. Manlief wou eintlik
verlede week eerder teen Wallis verloor, as hierdie week teen die Engelse. Hy
het net nie kans gesien vir ‘n nederlaag teen die Engelse nie. Nietemin het ons
vol hoop gereed gemaak vir Saterdag. Ons het vas geglo dat wonderwerke steeds
nog kan gebeur in vandag se tyd.
Toe boul die bokke ons uit. Teen die tweede drie het manlief
daarop aangedring dat ons werk aan ‘n vierde Coetzeetjie. (Eers na die wedstryd
natuurlik. Hy wou niks mis van hierdie geskiedkundige dag nie.) Ons sal die
kindjie noem Mapimpi Rassie Coetzee. Dis ‘n waardige naam. Dis die naam van ‘n
wenner.
Hier in die laaste minute kon mens op TV sien sien hoe hul
besig is om die wenners te graveer op die beker. Skoonma roep dadelik dringend
en opgewonde na Lambrecht (wat buite besig is om ‘n staanrib om te draai) om te kom kyk. Hulle graveer al die beker se
wenners! Amé
en Daniël gil onophoudelik, “Go bokke go” en Lambrecht is dankbaar dat ons die
Engelse darem so ‘n klein bietjie kon laat betaal vir die konsentrasiekampe. So
skree almal in die huis iets anders. Net skoonpa skree niks. Hy sit op die punt
van sy stoel met sy bokserp om sy nek. Hy lyk verstom. Die bokke het werklik
verras.
Adriaan is 8 maande oud, maar hy sit en klap die heeltyd net
handjies. Hy weet nog glad nie wat aangaan nie, hy weet net vandag is ‘n dag
vir handeklap. Of jy kan verstaan of nie.
Ons sal nog lank jare handeklap en nostalgies raak oor hierdie dag
wat die bokke soos kampioene gespeel en gevég het. Ons sal nog lank jare praat
oor ‘n kaptein se toespraak wat oor baie meer as rugby gegaan het. Oeg, ons is trots,
trots, trots!
Comments
Post a Comment