'n Maandag blouer as blou


Saterdag raak ons jongste een. Ons onderneem ‘n daguitstappie na Kaapstad. Sulke uitstappies klink altyd lekkerder in ‘n mens se kop as in die werklike lewe. Adriaan gedra hom mooi. Behalwe die glas blou melkskommel wat hy in Wimpy omgooi, verloop die oggend mooi. Hy raak rustig aan die slaap tydens ons boottrippie in die hawe. Hy verkyk hom aan alle mense en glimlag te fraai as iemand in sy rigting kyk. Die laaste 10km voor Wellington, oppad terug, raak vir hom te veel. Ons haal hom noodgedwonge uit sy stoeltjie. Maar ‘n 1-jarige wat genóég gehad het is ‘n gevaarlike ding. Hulle is meedoënloos. Hulle kan ‘n ma gewetenloos verinneweer!

Toe ons uiteindelik tuis arriveer voel ek tien jaar ouer en doodmoeg.

Gisteraand besluit ek en manlief om ‘n noodvergadering byeen te roep. Ek en hy sal moet besin en strategie uitwerk oor hoe ons hierdie fase gaan hanteer. Ons huis lyk gedurig of hier ‘n orkaan deur is. Ons lieflike jongste het meer speelgoed as wat sy sussie en boetie van kon droom op 1-jarige ouderdom. Tog verkies hy om eerder die kas onder die wasbak oop te ruk en te suig aan my skottelgoedsponsies (gebruiktes). Of hy maak die laai met my (heilige) Carol Boyes mooigoed oop en kap met die slaai-en opskeplepels op die kombuisvloer. Hy toon absoluut geen belangstelling in sy eie speelgoed nie.

Hy klim op alles. Probeer elke kasdeur in die huis oopmaak en die inhoud uitsmyt. Hy laat niks met rus. Hy skrik ook vir niks nie. Maar hy is gesond en vrolik en vrek oulik.

Ons sal goed koop om elke kasdeur in ons huis mee toe te maak. Daardie knip goed wat jy by Dischem kry. Ons gaan oefen om met ‘n kalm stem te praat al voel ons daar woed ‘n storm in ons binneste. Ons gaan hierdie stadium probeer geniet, want ons weet dit gaan (gelukkig) verby! Ons gaan net een maal ‘n dag huis opruim, en nie die heeeeeeltyd nie. Want dit steel onnodig ‘n KLOMP lewensvreugde. Na ons vergadering voel ek beter.

Wat vanoggend gebeur betrap my heeltemal onkant. Manlief was 'n rukkie terug baie siek met ‘n maagvirus. Die res van ons gesin het dit genadiglik vrygespring. Tot vanoggend... Amé  staan op en kla van maagpyn. Toe het ek reeds my vermoede. Teen 8-uur is die skrif aan die muur: Oudste en jongste het albei die maagvirus onder lede. Teen teetyd weet ek – ek het hom ook nie vrygespring nie.Middagete vandag by die Coetzees was roosterbrood met bovril en soet rooibostee. Dit laat my altyd beter voel.

Maar waaroor ek EINTLIK wil skryf is die handafdruk Valentynsbriefie waarmee Daniël vanmiddag by die huis kom. Die stukkie waarheid tref my tussen die oë:

Pappa en Mamma, ek word so gou-gou groot. Hou my nog ‘n rukkie klein. Maak tyd om na my te luister en liefdeswoordjies in my oor te fluister.

(Dankie Juf. Sarah en Juf. Theoné dat julle hierdie mamma op een blouer as blou Maandag herinner aan waaroor die lewe regtig gaan.) 

Comments

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep