Korona Dagboek - Dag 6


So met die aankondiging van die lock down was die vraag op die meeste middelklas huishoudings se lippe: Mag ons steeds met ons hondjies gaan stap en mag ons aanhou draf. RSG is warm gebel met hierdie vraag.

“Mag ons steeds met ons hondjies gaan stap?”

Aanvanklik het die minister gevoel jy mag nie eintlik gaan draf of met jou hondjies gaan stap nie. As jy dit wel doen, moet jy dit net asseblief verantwoordelik doen. Na die eerste sterfte het ons geskrik. Die minister inkluis. Toe mag niemand meer stap met hulle hondjies of draf nie. Selfs al het jy dit vantevore verantwoordelik gedoen.

Ek is op Wellington drafgroep se whatsapp groep. Die drawwers is besig om teen die mure uitgedryf te word. Een gesoute drawwer wonder anderdag op die groep hoe erg een nag in die tronk nou werklik kan wees....as mens nou betrap sou word tydens een hemelse drafsessie buitekant. Ek beduie vir manlief dat ek op breekpunt is. Ek is nie ‘n wafferse drawwer nie, maar ek het wind in my hare en sweet op my rug nodig – op gereelde basis – om my beste ek te kan wees. Manlief waarsku egter dat ek ‘n boete vir skelm draf of stap self gaan betaal.

Twee oggende gelede besluit ek: Genoeg is genoeg. Ek trek 5-uur die oggend my draftekkies aan. Ek besluit om op-en-af op die stukkie gras voor ons huis te draf, vir ten minste 3km. Die stukkie gras is nie baie groot nie. Drie kilometer is wraggies BAIE keer se op en af. Dit was loshande een van die verveligste goed wat ek nog in my lewe gedoen het. Ek was natgesweet. En daar was wind in my hare. Maar nie weer nie.

Ek loop oom Danie in Woolworths raak. Ek verwag dat hy teneergedruk en gefrustreerd sal wees oor die stand van sake. Hy lyk in uitstekende vorm. Hy draf nog fluks elke dag op sy eie werf, vertel hy. Hy het ‘n heerlike roete rondom sy swembad en huis. Korona gaan hom beslis nie laat ophou draf nie.

Meer as ooit tevore is ek nou bewus van hoe bevoorreg ons is. Ek voel eintlik skaam om daaroor te skryf. Dinge kan enige oomblik vir ons huisgesin ook verander. Ons is dus nederig dankbaar vir waar ons vandag op dag 6 van Korona is. Ons huis se grootste uitdaging is die feit dat ons letterlik op lock down is. Vir baie daarbuite is hul uitdaging dat daar eenvoudig nie geld vir kos is nie...

Dan wonder ek of die kool die sous werd is. Was hierdie tipe lock down die beste en die enigste opsie? En gaan lewe soos ons dit ken oor 15 dae net normaal weer hervat?

Op ‘n ander noot. Ons meisiekind verjaar vandag. Daaroor sal ek blog na hierdie dag. Ek kan net noem dat ek ‘n mini 4 laag koekie gebak het vir haar verjaarsdag. Ons slaap min. Adriaan sny sy 8ste tand. Die proses is swaar vir hom. Nog swaarder vir ons. As ek moeg is vertrou ek myself nie naby kos nie. Ek kan namiddag snap en myself vergryp aan verjaarsdagkoek. Dit gaan nie vir my of my gesin lekker wees nie (Ek is tog so ‘n onaangename mens as ek ooreet is!!!). Nou hou ons dit veilig. Daardie mini koekie gaan ons sommer met koffietyd klaar eet.

Hierdie 7de verjaarsdag van ons Amé-kind op dag 6 van lock down sal ons immers nooit vergeet nie!



Comments

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep